Preek van die week

Sondag 19 Maart 2017 Romeine 2:17-29 L 388:1,3; L 389:1,2 L163 L396:1,2 L334:1-4 L278 (Jesus het gesterf) Die wêreld daarbuite is sleg! Sou jy saamstem met so stelling? Natuurlik sal ons saamstem. Is dit nie so dat die tronke vol van misdadigers is nie? Hierdie misdadigers is mense wat moor, roof, steel, vroue verkrag en kinders molesteer. Die statistieke wys dat meeste mense wat in die tronk beland skuldig is aan geweldsmisdaad soos moord en aanranding en dit word gevolg deur diefstal en bedrog en dan seksuele misdade waarvan die meeste verkragting is en dan volg oortredings soos dwelms en ander misdrywe. So die wêreld daar buite lyk maar vreeslik. Ons praat ook graag oor hoe die integriteit van leiers buite die kerk lyk en hoe vêr hulle te kort skiet. ’n Kind wat in die kerk grootgeword het en opgevoed is in ’n huis waar godsdiens en die waardes van godsdiens belangrik is, het eintlik baie beskermd grootgeword. Hoe sal so kind kan weet van die geweldige emosionele en ekonomiese probleme wat gepaard gaan met ’n pa of ’n ma wat aan dwelms of drank verslaaf is? Hoe sal so kind weet van die angs en vrees wat ’n gesin beleef wanneer een in die gesin gewelddadig is en die ander aanrand en verrinneweer? Of die skande en verleentheid van ’n pa of ’n ma in die tronk oor iets wat hulle verkeerd gedoen het? Kyk ek na die statistieke van die huwelike wat ek bevestig het, beklemtoon dit die veilige sekuriteit wat ’n verbintenis met die kerk vir ’n mens gee. Die psalmdigter van Psalm 84 sê: “Waarlik, één dag in u tempel is beter as duisend daarbuite. Ek staan liewer by die drumpel van die huis van my God as om te woon in huise sonder God.” En dit is beslis waar, want ons kan sien hoe die kerk mens beskerm teen die sleg van die wêreld daarbuite. Dit is by die kerk waar mense kom aanklop wanneer hulle nood ervaar en dit is by die kerk waar mense weet dat hulle aanvaar sal word met al hulle foute. Ongelukkig kan dit ook so in ons lewens word dat ons hier vanuit die veilige ruimte van die kerk na die wêreld kyk en dan soos die Fariseër maak waarvan Jesus een maal in ’n gelykenis gepraat het, wat gesê het: “O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie.” Dit kan gebeur dat ons dan so verwaand word in ons godsdienstige oortuigings dat ons begin dink dat ons beter as ander mense is. Dan sien ons nie raak hoe die kerk die ruimte is waar gelowiges binne ’n geloofsgemeenskap betekenis vir mekaar kan hê nie, maar hoe dit ons eintlik in ’n beter posisie plaas. Duidelik kan ons in hierdie gedeelte raaksien dat Paulus probeer om te wys dat die een mens nie belangriker as die ander mens is nie. In hierdie geval spesifiek dan die Jode wat graag gedink het dat hulle beter as ander is. Hulle was immers die uitverkore volk van God en het daarom gedink dat hulle in die geloofsgemeenskap darem net in so ’n bietjie beter klas as die ander moet wees. Dit is waarskynlik ook die rede waarom Paulus so duidelik klem daarop lê dat daar niemand is wat voor God onskuldig is nie. Dit herinner ook aan Jesus wat gesê het dat die Fariseërs is soos witgepleisterde grafte. Mooi van buite maar binne vol doodsbeendere. Jesus het vir die Fariseërs gesê dat hulle meer gesteld is op die eer wat mense hulle kan gee as wat hulle gesteld is om in ’n eerlike en opregte verhouding met die Vader te leef. Hulle hou daarvan om te roem oor hoe hulle band met God se volk hulle beter maak as ander mense. Die dinge waarop hulle roem is die uiterlike verbintenis met die godsdiens. Al in die Ou Testament word die volk deur die profete gewaarsku dat hulle baie gou is om hulself met die mond aan God te verbind, maar hulle harte is vêr van God af. Vir hulle het die idee van godsdiens en die onderhou van kerklike en godsdienstige tradisies belangriker geword as om vanuit die oortuiging van hulle harte te leef. Mense doen dit steeds vandag. Die kerk of sekere kerklike gebruike is waarin mense se sekuriteit lê. Ons hoor dikwels hoe daar gesê word dat die kerk moet reageer op die dinge wat in die land verkeerd loop. Mense beskuldig die kerk dat die kerk stilswyend saamstem met die regering van die dag. Dan word daar gevra of die kerk dan niks te sê het oor die plaasmoorde, die bedrog en die onbekwaamheid van die plaaslike en nasionale regerings om te bestuur nie, want alle mense lei daaronder. Mense verwag van die kerk om standpunt in te neem oor godsdiensonderrig op skool. Dan bedoel hulle daarmee dat die kerke moet saamstaan en die regering dwing om weer terug te beweeg na die verlede waar kinders oor die Bybel en geloof in Jesus Christus geleer is. Dit is ook vir mense baie belangrik om te sê dat hulle aan een of ander kerk behoort. Mense doen nog moeite om hulle kinders te doop en op so manier hulle verbintenis met die kerk te verseker. Daarom dat ons van tyd tot tyd deur mense wat glad nie aan ons gemeente behoort nie, maar wel ’n verbintenis met die Hervormde Kerk het, versoek word om hulle te trou of hulle kinders te doop. Op een of ander manier sien hulle wel dat hulle ’n verbintenis met die kerk het en het dit ook vir hulle sekuriteit. Daar is ook baie meer mense wat tydens die sensus in 2011 aangedui het dat hulle aan die kerk behoort as wat werklik op daardie stadium deel van die kerk was. Van al hierdie mense wat verwag dat die kerk sy stem moet laat hoor oor maatskaplike en selfs ook politiese sake, is daar slegs ’n baie klein persentasie wat werklik by die kerk ingeskakel is en vanuit hulle geloof en oortuiging leef. Die kerk kan nie werklik ’n stem in die wêreld hê oor enige saak terwyl so min van sy lidmate werklik met oortuiging en toewyding leef nie. Die wêreld sien dit ook raak en van die sterkste kritiek wat teen die kerk gelewer word, is dat sy eie lidmate nie die oo Mense is ook geneig om sekuriteit in die tradisies van die kerk te vind. Met die Kerkhervorming was dit seker een van die moeilikste goed om aan te spreek. Die kerk het verlossende betekenis gekoppel aan die gebruike en tradisies van die kerk al het dit nie meer sin en betekenis gehad nie. Daarom is daar ’n baie groot verskil in al die simboliese handelinge wat in die Rooms-Katolieke Kerk toegepas word teenoor hoe ons ’n erediens inrig.  Die Kerkhervorming het uitgewys hoe belangrik dit is om vas te hou aan God soos Hy deur die woord geopenbaar word en nie God te gaan soek in die handelinge en tradisies van die kerk nie. Maar ons moenie met so ’n redenering alle tradisies en gebruike oor dieselfde kam skeer nie. Ons het tog ook baie tradisies of gebruike in ons kerk wat vir ons belangrik is. Die doop en nagmaal is twee mooi voorbeelde. Dit is sakramente wat ons simbolies op ’n sigbare manier herinner aan die genade en liefde van God soos Hy dit deur Jesus Christus geopenbaar het. Ons dra bybelse tradisies steeds in ons erediens wat eintlik al uit die Ou Testament kom. Ons lees uit die Bybel, verklaar die gedeelte, ons bid saam en verheerlik God se Naam deur sang of rig ons deur sang in verootmoediging tot God. Ons doen moeite om in die kerk bymekaar te kom. Aan die begin van die hoofstuk vra Paulus of die besnydenis nog enige waarde vir die Jode behoort te hê. Hy is dan baie gemaklik om self te sê dat dit vir hulle betekenis behoort te hê. Die besnydenis herinner hulle immers daaraan dat God deur eeue heen met hulle ’n verbintenis gemaak het. Maar dit is baie belangrik om te weet dat die besnydenis op sigself nie van jou ’n kind van God maak nie. Hy verduidelik dit in vers 28,29 so: ”(28)  Nie hy is 'n Jood wat dit uiterlik is nie, en nie dit is besnedenheid wat uiterlik aan die liggaam gedoen is nie.  (29)  Nee, hy is 'n Jood wat dit innerlik is, en dit is besnedenheid wat in die hart gedoen is deur die Gees, nie volgens die wetsvoorskrifte nie. So iemand ontvang lof, nie van mense nie, maar van God.” Jesus Christus het vir ons ’n pad van lyding en dood gestap sodat ons onsself kan bevry van die oordele van die wêreld. Dit sluit ook die valse beeld en valse gerustheid in wat ons oor die kerk kan hê. Dit is nie die handelinge van die erediens, die kleredrag of die geskiedenis en tradisies van die kerk wat belangrik is nie, maar wel dat jy vanuit die geloof in Jesus Christus met oorgawe leef.  Die kerk moet nie namens jou iets sê oor misdaad of sedeloosheid nie, maar jy moet dit leef vanuit jou geloof. Daar is geen waarde in jou verbintenis met die kerk indien hierdie verbintenis nie ’n ware en opregte verbintenis met volle oorgawe is nie. God maak ons vry sodat Jood of nie-Jood die ware besnydenis kan hê. Dit is nie ’n letterlike besnydenis nie, maar die geloof in Jesus Christus as die Here en die Verlosser. Dit is ’n verbintenis met God wat nie noodwendig deur mense raakgesien sal word nie, maar wel deur God.  Met die ware oortuiging en geloof in Jesus Christus as Redder en Verlosser sal jy deel van sy kerk wees en sal dit nie nodig wees om vas te hou aan die beeld of idee van gelowig wees of godsdiens nie, maar sal jy deur jou hart gedryf wees om elke dag vanuit jou geloof in die veilige verbintenis van God se kerk te leef. Amen Sondag 12 Maart 2017 Romeine 3 : 9    20 L 393:1,2; Vonkk 55:1,2 L 384, L514:1,2 L 442:1,2 L 266 L 278 ( Jesus het vir ons gesterf) Ek het by ‘n geleentheid met ‘n jeugkamp vir die kinders gevra waarom is dit nodig dat ons Bybel moet lees. Hulle antwoord was meestal in die lyn van: “Om te weet wat God van ons verwag.” Op my vraag of hulle buiten die skool se reëls en die voorskrifte van hulle huise en die landswette nog reëls en voorskrifte in hulle lewe nodig het, was almal se antwoord dat hulle dit nie nodig het nie. Dit is uiteindelik bevrydend om te weet dat die Bybel nie oor reëls gaan nie, maar oor God se openbaring van sy liefde en genade. In dieselfde sin sou mens kon vra waarom belas ons lidmate deur elke Sondag na die Tien Gebooie te luister. Wil mense nog elke Sondag voorskrifte vir hulle lewe ontvang? In die ou orde van die erediens in ons kerk het die Wet en Belydenis 'n vaste plek in die erediens gehad. Die ou orde het met die deur in die huis geval: “Gemeente, waaruit ken jy jou ellende en sonde?” en dan was die antwoord: “Uit die wet van God. Kom ons luister na die wet soos dit opgeteken staan in Eks.20" en dan lees die ouderling die wet voor. Die wet bly egter altyd ‘n baie dramatiese punt en deel van erediens. Wanneer ons die wet voorlees verklaar ons dat ons swak en sondig is. Ons erken daarmee dat ons nie in staat is om ons eie heil te bewerk nie en die genade van God ongelooflik baie nodig het. Die wet soos dit in die erediens gebruik word staan teenoor wêreldse beskouing dat die mens goed is en tot alles in staat is. Die algemene ingesteldheid van mense vandag is dat die mens met homself moet kan identifiseer en vrede maak met so baie onveranderlikes. Met ander woorde dit is nie jy wat verkeerd is nie maar die samelewing se persepsie daarvan wat verkeerd is.  Die dinge wat mense vandag voorhou as die norm lyk dit asof almal maar reg is en dan maak dit nie saak of mense se opinies oor reg en verkeerd soms teenoor mekaar staan nie. Dit skep ‘n beeld dat die mens vir homself op sy eie oordele, ‘n paradys reeds hier kan skep. Ons het verskeie voorbeelde daarvan soos: Europese gemeenskap, VVO, sommige natuurbewaringsinstansies, ens Meeste gesprekke in die laaste tyd oor die sin van kerkwees raak eerder ‘n gesprek oor die mens en sy behoeftes as ware aanbidding van God. Waarom is die kerk dan so agter die tyd dat hy nog altyd vra "waaruit ken jy jou ellende en sonde". Daar is baie wat vandag sê dat die Wet nie meer voorgelees moet word nie en dat die mens nie so sleg is as wat die Bybel mense laat dink nie. Daarom sou mens met reg kon vra of die voorlees van die Wet dan nie outyds is nie en nie meer deel van die moderne denke is nie.  Baie voel dat Moses nie meer vir die mens in die moderne tyd iets te sê het nie en dat Jesus se gebod van liefde die wet totaal vervang het. Romeine 3 leer ons egter dat niemand hom sal kan verweer nie en dat die hele wêreld strafwaardig is voor God. Maar in ons menslike oordeel wil ons nie voortdurend aan ons foute herinner word nie. Ons is bang dat die erkenning van ons foute eintlik ook die erkenning van ons verlorenheid sal wees. Maar die wet is juis dit wat ons weer nederig maak en ons eie onvermoë om goed te doen an ons uit te wys. Deur die wet word ons ter selfde tyd gebind en verlos.......Sonder die wet met net my eie maatstaf is ek onder die indruk dat ek perfek is en is my eie optrede die norm waarteen ek ander beoordeel. ‘n Dosent het op ‘n tyd, spottende wys, vir ons gesê dit is soos die verskil wanneer ‘n man en ‘n vrou in die spieël kyk. Die vrou is altyd ontevrede oor dinge wat verkeerd is en die man dink hy is net perfek. Sonder die wet is jy op jou eie norme aangewese en kan jy maklik onder die indruk kom dat jy “net perfek” is. Dit is met die hulp van die wet wat ek kan weet dat ek skuldig is en in die erkenning van my swakheid weet ek ook dan hoe nodig ek God se genade het. Die vraag wat in hierdie gedeelte in Romeine 3 gevra word: Is Jode dan beter as nie‑Jode is die antwoord dat daar geen onderskeid is nie. Die wet ontmasker beide Jood en Nie‑Jood as strafwaardig voor God. Niemand kan as beter as ‘n ander gereken word op grond van sy wetsonderhouding nie of geregverdig word voor God nie. Dit is die wet wat aan elkeen sy onvermoë uitwys. Daarom plaas ons ook nie lidmate in die kerk in verskillende groepe nie, byvoorbeeld wetsgehoorsames en ongehoorsames nie. Die doel van die wet van God is nie om aan ons 'n klomp reëls te gee wat ons stiptelik moet nakom sodat ons gered kan word nie. Dit is wat die Fariseërs probeer doen het en erg daarin misluk het. Gehoorsaamheid aan die wet kom vanuit totale oorgawe in die geloof. Paulus skryf ‑ wat jy ook al doen moet jy vra of dit vir God goed en aanneemlik is. Geloof gee mens dié persepsie om nie na jou wil nie, maar na God se wil te vra. Dit is veral vir kinders moeilik om te weet dat geloofslewe sou juis ook beteken, dat ek volgens hierdie geweldige hoë norme van God moet leef.  Vers 20 gee ’n logiese en duidelike verduideliking waarom die wet belangrik is. Deur die wet leer ek wat sonde is en deur te leer wat sonde is leer ek my ellende en skuld voor God ken en ons kan byvoeg kan ek uiteindelik ook weet hoe nodig dit is om voortdurend herinner te word aan God se genade. Dit is maklik om nou ‘n swaarmoedige prentjie kry oor ‘n mens so skuldig en so verlore is, maar die gelowige verheug hom juis ook in die wet, omdat deur die wet leer ken ons die grootheid van hierdie genade waarvan ons leer en wat deur Jesus Christus aan ons verkondig is. God het so lief dat hy die hoogste prys betaal sodat die sondaar vergifnis kan kry en in die paradys opgeneem word. Omdat die gelowige deur die wet van God kan sien dat hy nie vanuit homself tot iets goeds in  staat is nie,  vertrou hy op die krag van God en die leiding van die Heilige Gees. Wanneer ons die lyding van Jesus Christus herdenk word ons herinner dat ons nie leef vanuit 'n vernietigende gewete wat jou elke dag bedruk laat nie, maar as mense wat vrygespreek is op grond van die versoeningsdood van Jesus Christus. Mens is daarom nie deel van die kerk wanneer jy dink alles in jou lewe is reg nie, maar juis wanneer jy vanuit dit wat in jou lewe verkeerd gaan, besef dat jy nie sonder God se genade kan klaar kom nie. Deur Jesus Christus gee God aan ons vryheid wat totaal anders is as wat die wêreld ons kan bied. Vryheid word dikwels as ‘n soort towerspreuk voorgehou as die oplossing van alle probleme. Ons kan maar dink aan die kind wat gebind word aan reëls en regulasies of streng ouer dissipline. Hy sien met groot vreugde uit na die dag wat hy vry van alle bande sal wees wat hom so vashou. Maar wat vind almal uit oor hierdie geweldige vryheid waarna hulle so strewe, ook dit het ook weer 'n klomp reëls en regulasies. In Jesus Christus leer ons egter 'n totaal ander vryheid ken. Dit is 'n vryheid met ewigheidswaarde. Vryheid wat vir ons hoop en ware bevryding bring. Maar om by hierdie ware bevryding uit te kom het ons juis die Wet van God nodig. Die wet leer ons, ons sonde en ellende en wys ons dat ons verlore is. Daarom lei die wet ons na Christus om die genade aan te gryp wat Hy aan die kruis betoon het. Oor die wet sê ons nie “Ag nee, net 'n klomp reëls nie!”. Nee, ons sê dankie aan ons Hemelse Vader dat dit juis sy wet is wat ons leer hoe nodig ons sy groot liefde en ontferming het. Gary Chapman het ’n boek geskryf “Five languages of love” waarin hy die beginsel gebruik dat mens moet seker wees wat is die dinge wat jy kan doen wat jou huweliksmaat liewer vir jou sal maak. Op dieselfde manier luister ons na die wet, nie om bloot herinner te word aan al ons swakhede nie, maar om ook ‘n riglyn te kry hoe ons dankbaar op God se verlossing kan antwoord en sy Naam groot kan maak. Amen Sondag 26 Februarie 2017 Romeine 1:1-17 L 159:1 L 380:1,2; Vonkk 55:1,2 L 253 L 286 L 278 (Jesus het gesterf) Ons vier vanjaar die vyfhonderdste jaar van die kerkhervorming en sentraal in die wese van ons kerk se nadink oor God is die woorde van vers 17 wat sê dat mens vrygespreek word van jou sondeskuld alleen deur God se genade in die geloof dat Jesus Christus vir jou gesterf het. Dit is belangrike agtergrond vir die prediking vandag en ook die feit dat vandag die eerste Sondag is, in die herdenking van Jesus se lyding op aarde. Ons sal dan vir die volgende sewe weke in die prediking na aanleiding van Paulus se brief aan die Romeine nadink oor Jesus se lyding en sterwe teen die agtergrond van hierdie belangrike uitspraak dat mens net gered kan word deur die genade van God in die geloof dat Jesus ons Verlosser is. Daar is ’n hele paar bekende mense in die geskiedenis wat so deur hierdie brief aan die Romeine aangegryp was dat dit ’n totale verandering in hulle lewe gebring het. Augustinus wat amper 400jaar na Jesus geleef het se lewe is ingrypend deur hierdie brief verander, so ook Maartin Luther wat ’n baie belangrike rol in die kerkhervorming gespeel het, John Wesley en ook die groot teoloog Karl Bart. Maartin Luther was so aangegryp deur die boodskap van Romeine wat redding deur genade en geloof alleen verkondig dat hy gesê het dat die Brief aan die Romeine is dié gedeelte in die Bybel wat die lig op alles anders in die Bybel laat skyn. Hy het ook gesê dat dit die brief soveel betekenis het dat dit vir elke gelowige die moeite werd is daarom woord vir woord te memoriseer en elke dag daarmee besig te wees. Dit bring ons dan by ’n groot verwagting dat dit ’n wonderlike voorreg is om die Brief aan die Romeine te lees en dat dit ook in ons lewens aangrypende betekenis kan hê. Dit is daarom vir ons belangrik om behoorlik na te dink oor wat geloof in Jesus Christus vir ons beteken. Geloof kan nie die passievolle navolg van ’n ideologie wees nie en dit kan ook nie die onnadenkende navolging van ’n mens wees nie, al sou daardie mens Jesus Christus wees. Nee! Geloof moet jou aan die hart ruk, jou wêreld omkeer en jou ongekende sekerheid en blydskap gee oor die redding in Jesus Christus. Paulus skryf in vers 17: “In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.” So hierdie geloof wat so aan jou hart ruk, jou wêreld omkeer en aan jou sekerheid gee is ’n baie belangrike deel daarvan wat jou sekerheid gee oor die redding wat kom deur Jesus Christus wat vir jou gely en gesterf het sodat jy lewe vir ewig het. Geloof in Jesus Christus bevestig die wonderlike grootheid van God se liefde en genade in jou. As jy in die kerk grootgeword het, is die definisie van geloof min of meer so in jou gedagtes vasgebrand. “Geloof is kennis van die woord van God en vertroue in die God van die woord.” “Geloof is verstandkennis en ook hartskennis oor die verlossing wat God deur Jesus Christus bewerk het.” “Geloof is om te weet dat God jou in Jesus Christus uitverkies het en om met jou hele hart te vertrou dat dit vir jou waar is” As jy in die kerk grootgeword het, is daar ’n paar tekste wat in mens se kop vasgebrand is wat iets sê oor die sekerheid dat God ons deur Jesus Christus verlos, nl. Johannes 3:16 “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.” Romeine 10:9,10 “As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered.” Hebreërs 11:1 “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.” Ek is egter seker dat elkeen van julle al in julle lewens beleef het dat jy gewens het dat jy meer geloof kan hê of dat jy stoksiel en alleen gevoel het in jou worsteling in die lewe. Dikwels luister mens na hierdie beskrywing van geloof in Hebreërs 11 en dan wens jy dat jy ook so sonder enige twyfel kan glo in daardie dinge wat nie gesien kan word nie. Jy is egter nie alleen nie, elke Christen wil ’n beter en sterker geloof in Jesus Christus hê en Paulus bring in die Brief aan die Romeine vir ons daardie boodskap wat vir ons dit moontlik kan maak - Jesus Christus alleen en alleen God se genade. Wanneer mens geloof wil verstaan moet jy in die eerste plek verstaan dat geloof veroorsaak dat jy reageer. Dit is m.a.w. nie net ’n getuienis van woorde nie, maar soos die Brief van Jakobus verduidelik gaan geloof gepaard met dade en dat dit eers in die dade volkome word. Hy verwys na Abraham wat nie net geglo het nie, maar ook sy goed gepak het en getrek het op die pad wat God hom aangewys het. Geloof is om dit in die eerste plek om na God te soek en dan toe te laat dat God beheer oor jou lewe neem deur jou optrede elke dag deur die Heilige Gees te bepaal. In die tweede plek is geloof kraggewend. Wat ek bedoel is dat dit geloof is wat ons aanspoor om in beweging te kom. Dit is geloof wat ons aanmoedig om te lees van al die geloofshelde soos dit in Hebreërs 11 beskryf word nl.  Abel, Noag, Abraham, Isak, Jakob, Josef, Moses se ouers, Moses, die Israeliete, Ragab en soos die skrywer sê daar is te veel om op te noem. Dit is almal mense wat geglo het en in beweging gekom het. Daarom moet geloof soortgelyk ook in ons lewens wees. Romeine 1:17 leer ons dat geloof red ons, maar ons weet ook dat geloof identifiseer ons vir wie ons werklik is. Geloof is in wese dit wat aan ons sekerheid gee, maar leer ons ook waartoe ons in staat is. Geloof het te doene met bekering en ’n lewe van toewyding en dit het ook te doene met mense wat God deur Jesus Christus leer ken het wat bereid is om in hulle lewens te waag. Geloof is ’n geskenk van God vanuit sy liefde en genade en geloof is iets wat in jou groei en ontwikkel en aan jou vasgroei totdat jy niks anders kan wees nie. Jy kan dalk vandag hier sit en dink dat jy met alles saamstem en steeds wens dat so ’n geloof vir jou beskore is. Onthou dat alles wat jy al in jou lewe vermag het, het begin met die wens om dit te doen en uiteindelik die oortuiging dat jy dit kan regkry. Ek onthou goed toe my kinders leer fietsry het hoe elkeen van hulle op een of ander stadium sommer net die fiets wou gryp en ry en dan tot die besef gekom het dat hulle eers gehelp moet word daarom reg te kry. Maar die sukses het begin by die oortuiging dat hulle dit kan doen. Dieselfde gebeur wanneer ons oor geloof praat. Petrus klim uit die boot en loop op die water totdat sy geloof hom begewe. Hy verloën Jesus en leer om so sterk in Jesus te glo dat hy bereid is om enige iets te vat wat die Joodse Raad hom mee wou verhinder om sy geloof uitleef. Al het Petrus aanvanklik gefaal was dit tog sy geloof wat hom uit die boot laat klim het.  Daarom kan ons weet dat dit vir elkeen van ons moontlik is. Waag dit, ware geloof sal jou lewe verander, dit sal aan jou hart ruk, jou wêreld omkeer en jou ongekende sekerheid en blydskap gee oor die redding in Jesus Christus. En as jy steeds voel dat jy dit nie sal regkry nie, leer dan van Paulus wat sy lewe so ingerig het dat hy ook deur ander in geloof versterk kan word. Paulus het ’n intense begeerte gehad om die gelowiges in Rome te gaan besoek. Hy het nie die gemeente gestig nie, hy het nie ’n band gehad het met die stigters van die gemeente in die sin dat hy die evangelie aan hulle verkondig het nie, maar nogtans wou hy baie graag die gemeente besoek. In Romeine 1 sien ons dat die band wat hy met die gemeente het, is die geloof in Jesus Christus as die Redder en Verlosser. Hy het gehoor van hulle geloof en het hom met hulle vereenselwig en wou daarom graag ook by hulle ’n besoek aflê. Paulus leer ons ook dat indien jy die begeerte het om ’n vaste geloof en vertroue in Jesus Christus het, moet ons ook op mekaar staatmaak en beskikbaar wees vir mekaar om mekaar in geloof te versterk. Luister net weer na hierdie woorde in vers 10-12: “(10) Elke keer as ek bid, vra ek God of Hy dit nie uiteindelik vir my moontlik wil maak om julle te besoek nie.  (11)  Ek sien baie daarna uit om julle te besoek, want ek wil 'n geestelike gawe aan julle oordra om julle te versterk.  (12)  Ek bedoel dat, as ek by julle is, ons deur mekaar se geloof bemoedig kan word, ek deur julle s'n en julle deur myne.“ Hy sê dat hy ’n gawe het wat hy met hulle wil deel. Hierdie gawe is nie om wonderwerke te doen wat hulle asem gaan wegslaan nie, maar net om die boodskap van redding en verlossing met hulle te deel. Hy lê ook verder daarop klem dat dit nie net hy is wat iets vir hulle wil gee nie, maar dat hulle ook hom in sy geloof kan versterk en hom bemoedig. Ek wil daarom vandag afsluit deur te sê dat dit nie toevallig is dat ons saam met mekaar hier in die gemeente is nie. God het dit vanuit sy wonderlike en genade moontlik gemaak dat ons vir mekaar kan beteken wat Paulus so begeer het om met die gelowiges in Rome te deel. Kyk bietjie vandag rondom jou en sien die mense raak wat God tot jou beskikking gestel het om jou in geloof te versterk. Ons sal nog in ons besig wees met Romeine sien dat God nie bedoel het dat ons na mekaar moet vingerwys of mekaar veroordeel nie, maar juis in ’n gees van sagmoedigheid vir mekaar betekenis kan hê om mekaar ook in geloof te versterk. Indien jy werklik hierdie geloof wil hê wat jou aan die hart ruk, jou wêreld omkeer en jou ongekende sekerheid en blydskap gee oor die redding in Jesus Christus, leef dan die band wat God aan jou gee met ander volledig uit. Ek wil jou vandag uitdaag. Gee jouself oor aan hierdie eenvoudige, maar ook wonderlike boodskap en steek jou hande in liefde uit na die ander wat saam met jou deel in hierdie boodskap en wees vir mekaar ’n versterking in geloof. Immers watter sin het dit dat mens hierdie boodskap kan hoor en glo en jy het niemand met wie jy dit kan deel nie. Amen Sondag 19 Februarie 2017 Psalm 84 L 168:1-3 Ps 84:1,2,4 Maak my nou stil Heer Vonkk 5 L 266 L 278  (Jesus het gesterf) Ons gaan Psalm 84 lees vandag en die Psalm, gaan oor die wonderlike betekenis wat die kerk in die digter se lewe gehad het. Wie het gister met groot opwinding nagedink oor die erediens en alles wat ons vandag hier met mekaar kan deel? Wie was gisteraand so opgewonde omdat jy vanoggend kerk toe kan kom dat jy nie gisteraand aan die slaap kon raak nie? As kind was die kerk vir my iets groter as die werklikheid self. Dit is waarskynlik waar die saadjie by my al geplant is dat dit lekker en goed is om naby God te kan leef. Om in die kerk in te gaan was vir my 'n vreemde ervaring. Dit was amper om weg te gaan van hierdie wêreld na 'n wêreld waar dinge net anders en groter is. Ons het op ’n plaas gebly en kerktoe gaan was nie iets wat sommer uit die bloute besluit is nie. Ons as kinders moes mooi skoongemaak word en moes spesiale klere dra vir kerk. Dit was ook van die min geleenthede wat ons sou skoene dra. Op pad kerk toe, was daar die normale dinge: beeste of bokke wat deur die draad gebreek het, mense wat op die grondpad soos besetenes gejaag het, die stop by die kafee om die Afrikaanse en die Engelse Sondagkoerant te koop en die uitdeel van kerk en Sondagskoolgeld. Maar sodra jy in die kerk ingaan, was jy in 'n ander wêreld. Hier druk mens nie toeter nie, jy baklei nie met jou broers of sussies nie, nee jy is in God se plek en hier is 'n mens stil en weet jy dat God groter is as al die dinge daarbuite waarin jy elke dag deel. Maar ek weet as ek hierdie ervaring met julle deel sal daar onmiddellik mense wees wat sal sê dat dit is hoe mens in die ou tyd geleer is om oor die kerk te dink. Party sal ook sê dat dit 'n morbiede tipe atmosfeer is wat ons nie meer wil hê nie. Ons leef nou in 'n verligte eeu en mense kyk anders na die kerk. Mens kan dit duidelik sien in hoe verskillende goed in die kerk al verander het. Mense trek nie meer streng formeel, gedas en gepak, aan nie, daar heers 'n ander atmosfeer in die kerk, die wyse waarop die erediens ingerig word en hoe die dominee aangespreek word, is alles getuienis van hoe dinge verander het. Die Rooms Katolieke Kerk en die kerk in die vroegste tye het heilige en amper reddende betekenis aan die kerk en sekere simbole in die kerk gegee. In 'n tyd waarin min mense kon lees en skryf was simbole belangrik en wou hulle soms net aan een van hierdie simbole raak om weer hoop of troos te kon kry. Die Christusbeeld of die beeld van Maria met haar kindjie, teelwerke en selfs ook loodglaswerke wat heiliges uitgebeeld het, wat in die kerk gestaan was, is voorbeelde van goed wat hulle gesien het asof dit goddelike kragte het. Al dié dinge het ook aanleiding gegee tot 'n oorbeklemtoning van die waarde wat kerkgebou en gemeente in 'n mens se lewe behoort te hê. Die Protestante het dit raakgesien en met 'n groot beweging terug na die Woord begin. Dit was belangrik dat mense God deur sy Woord moes leer en nie alles in die kerk as godddelik te sien nie. Dit het natuurlik daartoe aanleiding gegee dat simbole in die kerk afgewater is na niks. Ons het 'n spreekwoord “Sola Scriptura” wat beteken die Skrif alleen en daarmee word die heiligheid van simbole weggeneem. Hoe moet ons die kerk sien en verstaan? Dit kan vir ons net 'n gebou wees, of dit kan 'n heilige plek wees waar jy ervaar dat jy 'n ander wêreld betree of dit kan 'n plek wees wat heilig gesien word en wat amper goddelike magte in mens tot stand laat kom. Mense wat nie erg aan die kerk het nie en nie gereelde kerkgangers is nie, sal gou wees om te sê dat die kerk kan jou nie in die hemel bring nie. Dit is absoluut waar! Tegnies gesproke is dit wat ons hier rondom ons het maar net steen en sement met 'n paar ander dinge by wat dit die eienskappe gee dat dit 'n gebou genoem kan word. Ons stem heeltemal saam daarmee. Ons sal nie die gebou kan sloop en dan het elkeen wat 'n steen het die waarborg dat hy hemel toe sal gaan nie. Die kerkgebou kan nie heilige betekenis hê nie, want wat van al die Christene wat onder tentseile of onder bome kerk hou? Kom ons lees nou Psalm 84.  Herhaal ver 2-4 Hoe lief het ek u woning, Here, Almagtige! Ek versmag van verlange na die tempel van die Here; met alles wat ek is, wil ek jubel oor die lewende God. Selfs 'n mossie het 'n nes en 'n swaeltjie 'n plek vir haar kleintjies daar by u altare, Here, Almagtige, my Koning en my God! Dit gaan goed met mense vir wie u huis 'n tuiste is: hulle hou nie op om U te prys nie. Die ongelooflike wanneer mens oor kerk praat is dat die saak die meeste van die tyd vanuit 'n minimum beginsel beredeneer word. Daarmee bedoel ek dat die argument eintlik vir mense gaan oor hoe min hulle hoef te doen, sodat dit vir God aanvaarbaar sal wees? Jare gelede het iemand, na aanleiding van ’n verslag oor die bywoning van eredienste tydens ’n ringsvergadering, gevra hoeveel keer ’n mens van die erediens kan wegbly voordat dit as ongereeld beskou sal word. Mense, kerkmense, redeneer ook dikwels oor of ’n mens kerk toe moet gaan of nie. Ek ken mense wat vas daarop staan dat hulle net kerk toe kom as hulle ’n behoefte daaraan het. 'n Gelowige kan eintlik nie redeneer of mens kerk toe moet gaan en hoe dikwels moet jy dan gaan nie. 'n Gelowige kan eintlik nie redeneer of die kerk spesiale betekenis moet hê of nie. Wat ek bedoel is, jy kan tog nie op so vlak wil redeneer oor iets wat veronderstel is om jou hele lewe te omvou nie. Die Psalmdigter  sê ....lees. Hoe lief het ek u woning, Here, Almagtige! Ek versmag van verlange na die tempel van die Here; met alles wat ek is, wil ek jubel oor die lewende God. By hom is dit nie 'n vraag of mens kerk toe moet gaan nie, maar wanneer hy weer die geleentheid sal kry. Dit is by hom 'n brandende begeerte om net weer in God se tempel te kan kom. En die belangrike van hierdie vreeslike verlange is, dat hy 'n ongelooflike liefde vir God se huis het. En dié gebou, hierdie steen en sement waarin ons nou sit, is die huis van God. Het jy God se huis lief? Het jy 'n brandende begeerte om in God se huis, saam met ander gelowiges bymekaar te kom? As mense vandag sou sê dat hulle in die kerk instap sonder dat hulle onder die indruk kom van God se grootheid of sonder dat hulle bewus is daarvan dat die kerk God se terrein is, wat anders as die wêreld daarbuite is, sal ek baie teleurgesteld wees. Hierdie gebou is tog meer as net sand en steen. Dit is die simbool van God se teenwoordigheid in ons lewens, dit is die simbool van God se reddende liefde vir ons en dit is die simbool van sy uitverkiesing, omdat dit in hierdie gebou is wat Hy ons roep om met Hom in ontmoeting te tree. Dit is hier waar God mense bymekaarbring wat Hy sy kinders noem en wat Hy deur sy liefde op so manier aan mekaar bind dat hulle mekaar broers en susters kan noem en in liefde na mekaar omsien. Die Psalmdigter sê hy het God se huis lief, want dit is die plek waar hy tuis kan wees. Dit is die een plek waar hy kan weet dat hy altyd welkom sal wees en waar hy beskermd voel. Hy sê dat God deur die kerk in so mate vir ons 'n tuiste geskep het, dat daar tot vir die swaeltjies en mossies plek is. Met ander woorde elkeen kan in God se huis hierdie tuiste vind. God maak dit moontlik. Hy sprei sy arms beskermend oor ons uit en bring ons bymekaar in hierdie veilige vesting – sy huis. Ek was onlangs saam met 'n groep vreemde mense, wat ook vir mekaar vreemd was, en dit het hulle nie te lank geneem voordat hulle oor al die ellende in die land gepraat het nie. Dit gebeur bitter min dat ons met vriende of familie kuier sonder dat die gesprekke een of ander tyd 'n draai sal maak by die misdaad en bedrog en al die ellende wat nog op ons wag. Dit is asof hierdie swaarkry ons gemeenskaplike besit geword het. Ons kan dit met mekaar deel. Net so het ons die afgelope week gedoen oor die moontlike uitwerking van die orkaan Dineo op dele van die land en het ons met mekaar gedeel oor wat die uitwerking daarvan hier by ons kan wees. Teenoor al hierdie gemeenskaplike dinge, wil die Psalmdigter getuig van God se huis wat hom opgewonde maak en wat hy graag met ander wil deel. Hy beklemtoon dat in al hierdie dinge wat so swaar op jou druk, kan jy weet dat jy by God se huis 'n ander wêreld betree, waar jy bewus kan wees van God se goedheid en liefde, en waar jy weer krag kan vind om al hierdie ellende te trotseer. As mens kyk na alles rondom ons wat so swaar op ons druk, is die beeld wat die digter gebruik baie passend. Hy sê ons kan God se huis vergelyk met iemand wat in die woestyn loop en swaarkry van die hitte en dors. Om in God se huis te kom, kan daarmee vergelyk word dat so iemand by 'n fontein kom waar sy dors geles word en waar daar vir hom nuwe krag en lewe is. Dit is hoe God ons hier in sy huis hoop en sekerheid wil gee. Om te kan sê dat die Here ons krag is en dat Hy ons beskerm en sy genade en eer gee, moet ons God ken en elke dag bewus wees wat Hy vir ons doen. Ons kan nie sê dat God vir ons goed wil wees, as ons nie elke dag bewus is van hoe groot sy liefde regtig vir ons is nie. Daarom is dit belangrik dat ons die grootheid van God se liefde in en deur Jesus Christus sal raaksien en dit ook in ons lewens oordink. En dit het ons met mekaar in gemeen en kan ons hierdie blydskap veel eerder met mekaar deel. Met die nagmaal wil ons vandag in die blydskap vashou aan die offer wat God in Jesus Christus gebring het, sodat ons die lewe kan hê. Dit is vir ons belangrik, omdat God die grootheid van sy sorg en liefde vir ons deur Jesus Christus openbaar het. Dit was vir Jesus ’n vernedering en swaarkry wat uitgeloop het op 'n wrede dood, maar vir ons beteken dit dat ons kan lewe vir ewig en dat ons hier 'n nuwe lewe kan begin. Dit is hier in God se huis wat ons ten spyte van slegte dinge in die wêreld buite die kerk, opnuut bewus kan word van God se liefde en sorg. Daarom behoort dit ook vir ons 'n begeerte te wees om tydens die nagmaal op 'n sigbare wyse te deel in die verkondiging van God se goedheid en liefde. Die Psalmdigter sê: “Waarlik, een dag in u tempel is beter as 'n duisend daarbuite.” Is dit ook in jou lewe waar? As ons realisties kyk na wat vat die opgewondenheid om in die kerk te wees weg, is dit dinge soos ons vol program, ons strewe na sukses en welvaart, laat in die bed kom op 'n Saterdagaand en ongeloof. Om vreugde in God se huis te kan vind is dit belangrik om te weet dat al hierdie dinge is deel van 'n wêreld wat verbygaan, maar God se teenwoordigheid, sy liefde en sy genade is vir ons baie meer werd as al die dinge wat ons so besig hou. Ons kan sê dat dit waar is dat die kerk jou nie in die hemel gaan kry nie. Maar as ons Psalm 84 lees kan ons ook nie anders as om te sê dat enige gelowige, enige iemand wat God ken en wat weet hoe groot God se liefde vir ons is, sal 'n brandende begeerte hê om in die kerk te kom. Vir so persoon sal die kerk so belangrik wees, dat hy ook eerder op die drumpel voor die deur sal staan as wat hy op enige ander plek sonder God is. As jy die Here ken in die volheid van sy liefde en genade, sal jy ook sê: “Hoe lief het ek u woning, Here, Almagtige. Ek versmag van verlange na die tempel van die Here; met alles wat ek is, wil ek jubel oor die lewende God.” Amen Sondag 16 Oktober 2016 Handelinge 15:1-11; 36-41 L 541:1-3; L 523:1,4 L 531:1,2 L 258:1-3 L 247 L 284:1-3 God seën ons (L 278) Skyfie dink in stilte Wat ’n ongemaklik storie is hierdie nie van Paulus en Barnabas wat stry gekry het oor Markus nie! Dit is die tipiese rusie wat in die kerk plaasvind en dikwels vêrreikende gevolge het soos onmin, skeuring en baie ongelukkigheid. Ek wil dat ons net eers die eerste paar verse lees dat u net kan sien waarom hierdie skeiding so skokkend en teleurstellend is. Ons lees Handelinge 15:1-11 Dit is eintlik hoe probleme in die kerk hanteer moet word. Die verskil wat hulle hier met mekaar gehad het, was ’n ernstige teologiese verskil, maar soos soveel ander kere het hulle die verskille opgeklaar en tot ’n vergelyk gekom wat tot voordeel van die evangelie was. Die bediening van die evangelie aan die heidene was ’n ernstige saak, maar hulle kon die probleem oplos deur mooi met mekaar te praat en die werk van die Heilige Gees voorop te stel. Verskillende paaie In vers 36-41 lees ons dat Paulus en Barnabas so ernstige verkil gehad het dat hulle paaie uitmekaargegaan het. Wat dit teleurstellend maak is die feit dat hulle in die uitdra van die evangelie baie nou saamgewerk het en suksesvol was om Jode en heidene tot bekering te bring. Hulle sou nou weer terugkeer na die dele waar hulle die evangelie verkondig het om die gelowiges te ondersteun, maar nou verskil hulle so erg oor wat na ’n netelige saak lyk dat hulle nie meer kans sien om met mekaar saam te werk aan die uitdra van die evangelie nie. Die hele rusie het oor ’n persoonlike vooroordeel gegaan. Barnabas wou graag vir Markus (word ook Johannes genoem) saam met hulle vat en Paulus was vies vir hom en het geweier. Vroeër in Handelinge word vertel dat Markus vir Paulus en Barnabas verlaat het om een van die sendingreise om terug te keer na Jerusalem. Soos dit in Handelinge 13 vertel word klink dit nie dat daar enige spanning rondom die saak was nie, maar nou moet ons aflei dat Paulus baie teleurgesteld was in Markus. Ons weet eintlik glad nie waarom Markus hulle op daardie stadium verlaat het om terug te keer na Jerusalem nie.  Hy kon moeg wees, dalk het hy verlang na sy familie of dalk het hy teruggekeer om in een of ander fees te deel. Wat ook al die rede was, ons kan nou sien dat Paulus wel baie vies daaroor was en wel soveel dat hy nou ’n ernstig voorbehoud oor Markus het. Ek dink julle sit nou so en luister en dink “Ek het daai woorde al in die kerk gehoor.” Want mense maak dikwels soos Paulus hier doen. Hulle stel allerhande voorvereistes en dan doen hulle eintlik die evangelie skade deur wat hulle doen dit. In ’n gemeente waar twee predikante is vertel mense dikwels mer misplaasde trots dat hulle nie kerk toe gaan wanneer ’n spesifieke predikant preek nie. In hierdie vertelling wonder mens wat het van hulle geloof geword? Wat het geword van die mooi voorbeeld wat hulle gestel het van bid sonder ophou en gewilligheid om deur die Heilige Gees gelei te word?  Paulus is so gerespekteerde apostels en nou tree hy eintlik baie onvolwasse in die geloof op. Mens wonder waarom het hy nie in hierdie omstandighede moeite gedoen om God te raadpleeg voordat hy ’n besluit geneem het nie. Waarskynlik sou meeste mense op dieselfde manier as Paulus opgetree het, maar sou mens kon sê dat dit deur genade onder die leiding van die Heilige Gees gebeur het? Ons weet die antwoord is nee, want juis in die kerk verwag ’n mens meer en beter van die gelowiges en veral van ’n apostel. Hoe reageer ons? Dit bring ons dan by die vraag wat is ons reaksie wanneer iemand ons teleurstel of wanneer jy ’n bepaalde vooroordeel teenoor iemand anders het? Ek was in my bedieningstyd nogal teleurgesteld in die manier hoe kerklidmate vir my of ander lidmate behandel het. Ek het al vreemde dinge beleef wat mense sê en doen en ook die moeite wat mense soms gedoen het om te wys dat hulle geen respek vir ander het nie, terwyl hulle nog steeds hulle voordoen as opregte gelowiges. In die vier jaar wat ek in die gemeente is, het lidmate ook hier al besondere moeite gedoen om te wys dat hulle nie tevrede met my of van die kerkraad is nie. Hulle het opgehou offergawe gee, opgehou eredienste bywoon, by buurgemeentes ingeskakel of selfs hier by ’n totaal ander kerk gaan inskakel. Die skok en teleurstelling wat ’n mens ervaar wanneer iemand vir wie jy nog net waardering gehad het so optree kan ek nie beskryf nie en dan ook die verleentheid omdat jy voor ander en dikwels ook agter jou rug so beledig is. Ja, ek is seker dit is nie net predikante wat dit ervaar nie, julle het ook dit al ervaar.  Êrens in jou lewe het ’n familielid, ’n onderwyser, predikant of iemand anders van die gemeente jou ook al teleurgestel. Dalk het die persoon nie voldoen aan jou verwagtings of dalk iets ernstig verkeerd gedoen of jou nie ondersteun soos jy gedink het dit sal gebeur nie. Wat doen mens in sulke omstandighede? Distansieer jy jou van so persoon? Mense sê dikwels “Ek sal hom vergewe maar ek wil niks verder met hom te doene hê nie.” Sal jy dit regkry om so persoon weer in jou vertroue te neem? Paulus het gekies om homself te distansieer van Markus. Barnabas het gedink dat Markus verdien ’n tweede kans en het sterk daarop gestaan. Ons sou dan oordeel dat Barnabas reg opgetree het en dat sy optrede getuig iets van die genade wat God deur Jesus Christus aan elkeen van ons gegee het.  Al maak ons foute het God in sy liefde dit in Jesus Christus moontlik gemaak dat ons nuut kan begin asof daar nooit oets verkeerd geloop het nie. Dit is ironies genoeg wat Paulus met groot toewyding geleer het, maar in hierdie omstandighede nie kon regkry om self te doen nie. In Efesiërs 4:32 "Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het. " Ek het in ’n vorige gemeente ’n lang stryd gehad met ’n lidmaat wat nie iemand, wat hy gemeen het hom verontreg het, wou vergewe nie. Hy het toe die lewe vir die buurman moeilik gemaak. Hy het die buurman se toegang tot die plaas afgesny deur die hekke uit te haal en met draadheining te vervang. Hy het hom toe gedwing om 5km draai te ry oor ’n amper onbegaanbare pad. In ’n gesprek wat ons gehad het, het hy vir my gesê dat as God mense wil vergewe kan Hy dit doen, maar hy sal nie die buurman vergewe nie. M.a.w. maak nie saak wat God sê en doen nie, die mens bepaal self sy koers. Arme Paulus het vergeet watter wonderlike genade hy ontvang het. As vervolger van die Christene het hy tot bekering gekom en mens kan verstaan dat ander hom nie sou vertrou nie. Sy optrede as christen kon maklik wees om net inligting bymekaar te maak. Een van die mense wat dit vir Paulus makliker gemaak het, was juis Barnabas. Hand 9:26-27  Saulus het na Jerusalem toe gegaan en het geprobeer om daar by die volgelinge van Jesus aan te sluit, maar almal was vir hom bang, omdat hulle nie kon glo dat hy 'n volgeling van Jesus is nie.  (27)  Barnabas het hom egter oor Saulus ontferm en hom na die apostels toe gebring. Hy het vir hulle vertel hoe Saulus op die pad die Here gesien het en dat die Here met hom gepraat het, en hoe hy in Damaskus openlik in die Naam van Jesus gepreek het. Dit is eintlik ’n baie mooi getuienis dat Barnabas weer die een is wat hom oor iemand ontferm en in hierdie geval was dit oor Markus al het dit beteken dat dit onmin tussen hom en ’n baie goeie vriend moes bring.  Ironies dat Barnabas toe daar twyfel was vir Paulus ingestaan het en noudat hy vir Markus by Paulus intree wil Paulus dit nie aanvaar nie, omdat sy persoonlike vooroordeel net te belangrik vir hom was. Dit wys ons ook hoe ons dikwels so emosioneel in ’n situasie opgeneem word dat ons nie goeie oordeel aan die dag lê nie. Hierdie slegte storie het darem ’n goeie einde. Later in ander verwysings, ook in Paulus se briewe lees ons dat Paulus en Barnabas het nog baie nou saamgewerk om die evangelie uit te dra.  Wat Markus aanbetref wil dit lyk asof Barnabas se goeie invloed wel ’n uitwerking op Paulus gehad het, want Paulus verwys later na Markus as ’n broer in die geloof, ’n medewerker en dit is ook duidelik dat Markus soms by Paulus was en hom gehelp het in die uitdra van die evangelie. Daar het dus versoening plaasgevind en ook in so ’n mate dat Paulus vir Timoteus skryf dat Markus vir hom ’n groot hulp in die bediening is. Twee mense wat uiteenlopende reaksies gehad het. Aan die een kant Paulus wat in onvergenoegdheid optree en dit dryf tot by skeuring tussen hom en dierbare vriende en steunpilare en aan die ander kant Barnabas wat God se genade weereens verder dra as wat ander in dieselfde omstandighede sou doen. Barnabas is egter die getuienis daarvan dat God se genade groter as enige iets anders is en dat mense se harte en lewens verander wanneer hulle aan God se liefde herinner word. Jy kan self kies wat vir jou in jou saamleef met ander in die gemeente, jou familie en vriendekringe die meeste tel. Is dit belangrik om tot by die punt van vernedering en vernietiging van vriendskappe of geloofsbande jouself te handhaaf met al jou vooroordele of kan jy dit in jou hart regkry om deur die liefde van Jesus Christus geïnspireer te word en elke keer weer nuut te begin? Kan jy dit regkry om eerder God se koninkryk te dien as jou eie hardkoppige vooroordele wat jy oor mense en dinge het? Die slegte manier waarop gelowiges optree is dikwels ook die rede waarom die kerk soveel skade ly. Paulus skryf in Gal 5:14-15  Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”  (15)  Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie. Indien ons werklik met eerlikheid bely dat Jesus die hoof van die kerk is en ons is sy liggaam, sal ons baie meer ingestel moet wees om iets van die wonderbaarlike liefde van Jesus Christus in die wêreld bekend te maak. In Barnabas het ons gesien watter verskil hy in Paulus en ook Markus se lewens gemaak het en hoe hy tot hulle seën opgetree het. Ons sien ook hoe Paulus tot die regte insigte kom en in liefde na Markus uitreik. Waarvoor is dit wat jy in die kerk geken wil word? Is dit belangrik dat mense moet kennis neem van jou en jou opinies of wil jy hê dat die liefde van God in en deur Jesus Christus in alles gedien en geëer moet word? Hoe gaan jy met die liefde en genade wat God jou gee tot seën van ander wees? (Dink in stilte en in gebed daaroor na)   Sondag 17 Julie 2016 2 Korintiërs 6 : 14-7:1 L 530:1-3, L 283:1,2 L 590 : 1,2 L 188:1-3 L 254 L 266 L 314 As jy vandag die kans kon kry om te sê wat alles in ons land en dorp moet verander, wat sal jy sê.  Wat is die dinge waarin jy dink ons leiers vir ons ’n voorbeeld moet wees? Met die oog op die verkiesing wat oor ’n paar weke plaasvind, word daardie afgelope tyd baie berig oor stadsrade wat nie hulle verantwoordelikheid nakom nie. Daar word ook dikwels berig van wanbesteding van fondse en hoe stadsrade hulle tekorte wil opmaak deur munisipale belastings te verhoog. Ons hoor van salarisse wat onrealisties verhoog word en van geld wat in begrotings vir bepaalde projekte geoormerk was wat net verdwyn het. In ons eie omgewing het ons ook ondervind. Met die verkiesing om die draai word stadsrade nou gekonfronteer met al dinge wat verkeerd loop en verwag gemeenskappe dat hulle nou goeie dienste sal lewer. Die staatspresident word ook gedurig in die kollig geplaas om al die dinge wat onder sy leiding verkeerd gegaan het te verduidelik. Misdaad, die gebrek aan dienslewering en die besteding van staatsfondse kom gereeld ter sprake. Mense soek verduidelikings en maak ook nou van die komende verkiesing gebruik om van die politieke partye dinge af te pers wat hulle graag wil hê. Dit is net ongelooflik om elke dag te moet hoor hoeveel misdaad en onreg daar regoor die wêreld is. Maak enige dag die koerant oop en dit is deurspek met roof, moord, bedrog en diefstal. Die sleg van al die verkeerde goed wat in ons land gebeur, is dat al hoe meer en meer mense betrokke raak by misdaad. Party is aktief betrokke by dinge soos roof en verkragting ander weer passief deur voordeel te trek uit ander se misdaad. Die ergste is dat daar gereeld berig word dat polisiemanne, wat veronderstel is om die wet toe te pas, ook by die misdaad betrokke is. Dit is nie vir ons as gelowiges moeilik om al die sleg wat aangaan met die boosheid te identifiseer nie. Dit is die dinge waarmee mense wat God nie ken nie hulle besig hou. Dit is ’n hart wat God nie ken nie wat hom tot dinge laat lei wat ander mense se lewens deur misdaad laat negatief beïnvloed.  Dit is daarom logies dat 'n gelowige nie op enige manier aan misdaad kan deel nie, nie aktief nie en ook nie passief nie. In die gedeelte wat ons gelees het word gelowiges op verskillende maniere gewys dat hulle heilig moet wees. Vir 'n gelowige kan daar geen kompromie / vergelyk wees met die boosheid nie. Hier staan:
  • Moenie met ongelowige in dieselfde juk trek nie
  • Hoe kan daar 'n vennootskap bestaan tussen reg en onreg
  • Hoe kan daar gemeenskap bestaan tussen lig en duisternis
  • Hoe kan daar eenstemmigheid bestaan tussen Christus en Belial
  • Hoe kan die gelowige dieselfde belange hê as die ongelowige
  • Hoe kan daar 'n ooreenkoms bestaan tussen die tempel van God en afgode
In vers 17 staan “Daarom: gaan van hulle af weg en sonder julle af.”  En dit het gelowiges oor eeu laat besin oor wat hulle posisie in 'n sondige samelewing behoort te wees. Sekere gelowiges het gekies om hulle van die wêreld te gaan afsonder om dan nie aan die sonde van die wêreld blootgestel te word nie. Dit is waar die monnikeordes en kloosters hulle ontstaan te danke het. Hulle leef weg van die wêreld en die wêreldse plesiere soos onder andere om getroud te wees, om daarmee te keer dat 'n vennootskap tussen reg en onreg sal plaasvind. Ons almal weet dat dit maar weer nuwe probleme en versoekings bring en nie noodwendig die oplossing is nie. Maar as ons sê dat dit nie die oplossing is nie, beteken dit nie dat daarmee erken word dat ons maar kan maak soos party wel doen, om die bose tot ons eie voordeel te gebruik nie. Dit is altyd nodig om mense te waarsku om nie as draers van die lig te deel in die duisternis nie. Wanneer 'n mens tot geloof in Jesus Christus kom, kan daar nie enige duisternis in jou lewe wees nie. Onder alle omstandighede is jou lewe die verklaring van watter betekenis God deur Jesus Christus in hierdie wêreld het. As jy deur liefde die waarheid uitdra is dit wat mense van Jesus Christus leer, maar as jy deel in die onreg en oneerlikheid verklaar jy eintlik dat Jesus Christus niks is en geen betekenis kan hê nie. 'n Duidelike voorbeeld is waar mense vir eie voordeel in die hof opstaan en onder eed verklaar dat hy die waarheid gaan praat en dan sê hulle nog boonop “So help my God.” en dan vertel hulle die een leun op die ander om hulleself te beskerm. As jy voor die wêreld God as getuie roep en jy jok, beteken dit mos dat jy eintlik vir die wêreld sê dat daar geen God is nie. As jy oneerlik is en nie in liefde leef nie, getuig jy mos aan die wêreld dat Jesus Christus nie moontlik kan wees nie, want Hy het geen waarde in jou lewe nie. Die wêreld wil hê daar moet eenstemmigheid tussen lig en duisternis wees. Daarom word ons gekondisioneer om verkeerde dinge te aanvaar, omdat die bedoelde uitkoms daarvan eintlik goeie bedoelings was. Ons leef nou in 'n tyd waar die vraag of 'n vennootskap tussen reg en onreg moontlik is, baie sterk op die voorgrond is. Daar is 'n stelling waar ons sê “Elkeen vir homself en die duiwel vir die res”. Dit beteken gewoon dat elkeen vir homself soveel moontlik voordeel moet kry en jy gee nie om wat van die ander word nie. Daarom is bedrog, omkopery, diefstal, roof en moord aan die orde van die dag. Paulus skryf vir hierdie gelowiges in 'n tyd waar dit vir hulle maklik sou wees om 'n ooreenkoms tussen reg en onreg tot stand te bring. Hulle het geleef in 'n wêreld waar hulle baie blootgestel was aan die aanloklikheid van die wêreld wat vir hulle eintlik meer bekend was as die lewe waartoe hulle hulleself bekeer het. Boonop het hulle bekering ook swaarkry op hulle pad gebring; hulle is vervolg, mishandel en gestraf oor hulle geloof en die nuwe gedragspatroon wat die uitleef van hulle geloof op hulle gebring het. Eintlik voel dit asof hierdie gelowiges die regte redes gehad het om wel af te dwaal. Hulle bekering tot Jesus Christus het beteken dat hulle werklik die ou lewe moes afsterf en die nuwe lewe in Jesus Christus moes leef. Dit het hulle op elke terrein van hulle lewens geraak. Waar hy voorheen besigheid op heidense norme bedryf het, het hy nou nuwe waardes gehad wat sy optrede en handel bepaal het. Selfs hulle binding tot hulle kultuur en familiesake is deur die nuwe waardes van geloof in Jesus Christus bepaal. Die nuwe waardes is egter nie 'n klomp nuwe reëls wat hulle moes nakom nie, maar 'n lewe van vryheid, toegewy aan die Verlosser van die wêreld. Dit is 'n lewenswyse wat, vir elkeen wat glo dat Jesus Christus die Here is, 'n logiese uitvloeisel van sy geloof is. Dit is die rede waarom die gelowige nie gelyktydig in geloof en in die onreg van die wêreld kan leef nie. Ons verskoon onsself baie keer dat ons nie 'n keuse het nie; maar jy het. Daar is 'n spreekwoord wat sê: “Twee verkeerdes maak nie een regte nie” en dit is baie belangrik dat ons as gelowiges dit altyd sal onthou.  Christus bring ons deur sy liefde onder 'n nuwe wet en hierdie wet is die wet van liefde. As ons sy liefde in ons lewe ken, behoort ons met alles wat ons het net in die waarheid te deel. Met alles wat in ons land gebeur en die uitroepe wat ons het oor misdaad is die vraag of ons werklik ernstig is dat misdaad moet stop. Ons wil beslis nie hê dat mense vermoor of verkrag moet word nie, maar wil ons regtig die deur vir ons toemaak om deur middel van omkoopgeld kontrakte te kry of 'n verminderde boete te betaal of tronkstraf vry te spring? As ons ernstig is met ons uitroep dat misdaad moet stop, moet ons by onsself begin en in 2 Korintiërs 7:1 staan: “Laat ons ons dan reinig van alles wat liggaam en gees verontreinig, en ons in gehoorsaamheid aan God volkome aan Hom toewy?” Is jy bereid om dit te doen? Die belangrikste vraag is seker of jy bereid is om deur jou lewe die voorbeeld te stel van hoe mens in alles aan God gehoorsaam kan wees. Hoe aanloklik die dinge van die wêreld ook al is, moet dit vir elke gelowige belangrik wees om homself van die sleg in die wêreld te reinig en in toewyding aan God te leef. Dit is nie moeilik nie, want God vra nie dat ons 'n klomp reëls en voorskrifte moet nakom nie, maar dat ons met blydskap in ons harte sy liefde in hierdie wêreld sigbaar moet laat word. Dan sal dit maklik wees om eerlik te wees, om nie 'n ander se goed te vat of hulle aan te rand of te vermoor nie. Dan sal jy ook geen behoefte hê om op 'n oneerlike manier vir jouself wins in die wêreld te verkry nie. Paulus wys die gelowiges op die belofte wat God al in die Ou Testament gemaak het. Die belofte is dat God onder ons sal woon, vir ons 'n God wees en dat ons sy volk sal wees. God het deur Jesus Christus aan ons bevestig hoe groot sy liefde vir ons is en hoe Hy dit vir ons moontlik wil maak om in sy ewige heerlikheid te deel. Hy wil nie hê dat ons in 'n geslote kokon moet leef nie, maar dat die gelowige se lewe in die wêreld sal getuig van toewyding aan die lewende God en op dié manier 'n verskil maak in die wêreld. Om kind van God te wees, om deel van sy koninkryk te wees is nie 'n reg nie, maar 'n wonderlike voorreg wat God ons gee. Indien die liefde wat God deur Jesus Christus aan ons bewys het werklik vir jou betekenis het, reinig jou dan van alles wat liggaam en gees verontreinig, en wy jou in gehoorsaamheid volkome aan God op elke terrein van jou lewe. Amen Sondag 10 Julie 2016 Lukas 9 : 57-62 L 48:1; L282:1,3 Toetrede L 163 L509:1,3 L525:3 L258:1,3 L 528:1-3 L314 ’n Klompie jare gelede het ek by Gouritsrivier die reksprong gedoen. Die besluit wat ek geneem het om dit te doen was baie brawer as die daad self. Die video wat te koop was (wat ek nie gekoop het nie), het agterna uitgewys dat my kreet wat ek gegee het terwyl ek geval het, het eerder geklink na ’n dogtertjie se gil as ’n man se oorwinningskreet.  Die van julle wat al ’n reksprong vanaf ’n brug gedoen het, sal weet waarvan ek nou praat. Wanneer jy op die rand van daardie loopplank staan, met die rek behoorlik aan jou vasgemaak, voel jy glad nie so onverskrokke as toe jy besluit het om dit te doen nie. Dan moet jy jou vertroue volledig plaas op die toerusting en die mense wat dit hanteer. Dit is nie altyd maklik om op ander se vermoëns te vertrou nie. Ek het al gesien hoe mense wat van ’n verhoog afduik, vol vertroue dat hulle vriende hulle sal vang, hulself stukkend val op die grond.  Net so is kinders lief om mekaar se vertroue te toets deur een te blinddoek en dan moet hy net agteroorval. Natuurlik met die hoop dat sy vriende hom nie sommer op die grond sal laat val nie. Waarskynlik het almal dit al gedoen. Dan weet jy dat dit maar net deel van ons samestelling om seker te wees. Die meeste mense hou van roetine. Nie noodwendig dat jou lewe letterlik deur ’n vaste roetine beheer sal word soos ’n klok wat lui wat elke minuut van jou dag bepaal nie. Die meeste mense hou daarvan om in die gerustheid te leef dat dit niks onverwags sal gebeur en dat hulle in beheer van hulle lewe is en weet wat voorlê.  Ons hou nie daarvan om in nuwe situasies in te stap waar ons nie regtig weet wat om te verwag nie. Ons volg dieselfde gewoontes en gebruike en noem dit ons kultuur. Selfs by die kerk hou ons daarvan dat dit wat ons hier doen moenie enige verrassings inhou nie. Dit gaan nie noodwendig oor ’n vrees vir die onbekende nie, maar wel ook oor die sekerheid wat daarmee gepaard gaan dat jyself in ’n mate in beheer is. Daar is die laaste tyd baie sprake daarvan om mense na die planeet Mars te stuur. Alhoewel dit ver in die toekoms lê, word daar nou reeds baie bespiegel oor wat so ’n reis na die onbekende alles sal inhou. Die moontlikheid word genoem dat dit kan misluk, of dat die ruimtevaarders nie weer sal kan terugkom nie. Dit is letterlik soos in die Star Trek films gesê word “ Boldly go where no man has gone before.”  My maag trek op ’n bondel as ek dink wat dit alles inhou. Die vraag is, sou jy kans sien om dit te doen. Daar is wel mense wat daarvoor kans sien. Daar is mense wat soos Kingsley Holgate die avonturier  bereid is om die onbekende in te gaan en wêrelde vir ons te ontdek. Mense wat gedryf word om te weet wat lê agter daardie horison waar niemand kans sien om te gaan nie. Dink maar hoe moes die groot ontdekker van die 17e eeu, Christopher Columbus gevoel het. Hy het gegaan waar niemand gedink het dit moontlik was nie. Almal was tevrede om oor die land te reis om met Asië handel te dryf, maar hy was vas oortuig dat dit makliker sou wees as daar net eers ’n roete per see ontdek is. Indien ons hierdie gedagte van die onbekende ingaan en vertrou op mense en toerusting is daar in die Bybel baie duidelike voorbeelde waar God mense uitgenooi het om op Hom te vertrou. Adam en Eva moes op God vertrou dat Hy vir hulle die beste weet en dat Hy vir hulle sou sorg, maar hulle wou eerder op hulle eie kragte staatmaak en bring so verwydering in hulle verhouding met God. Abraham word deur God geroep om die onbekende in te gaan en ’n spesiale verhouding met God te hê. Alhoewel die Bybel meestal hierna verwys in die lig van die waagstuk en vertroue wat Abraham openbaar het, (soos bv. in Hebreërs 11) weet ons dat Abraham wel soms getwyfel het of  God werklik hom in die onbekende of dalk selfs teen bekende gevare sou kon beskerm. Daarom probeer hy by meer as een geleentheid selfs sy redding bewerkstellig eerder as om op God te vertrou. Hy gee bv. twee keer voordat Sara sy suster is en nie sy vrou nie, omdat hy bang is dat vreemde konings hom sal vermoor om sy vrou vir hulle te vat. Die duidelikste voorbeeld is seker toe hy ’n kind by ’n slaaf gehad het, omdat hy en Sara begin twyfel het of God wel vir hulle ’n nageslag sal gee. Nogtans verwys die Bybel na Abraham se geloof en vertroue wat hom oortuig het om op God se roepstem te antwoord en die onbekende in te gaan. Nog voorbeelde is Noag, Moses, Samuel, Dawid en seker al die profete wat op God se woord vertrou het en dinge gedoen het wat mense normaalweg liewers nie sou doen nie. Ons sou kon sê dat hierdie gebeure waarvan ons gelees het in Lukas 9 speel af op die tydstip toe Jesus op die hoogtepunt van sy bediening was. Hy het mense gesond gemaak deur wonderwerke, skares mense het Hom gevolg om te sien wat Hy doen en te hoor wat Hy oor die koninkryk leer. Selfs die dissipels het dit aangevoel en daarom lees ons in die voorafgaande gedeelte hoe hulle ook onder mekaar gestry het wie die belangrikste in Jesus se koninkryk gaan wees. Mense was so opgewonde om Jesus te sien en ervaar dat iemand in ’n stadium met groot vertroue vir Jesus gesê het dat hy vir Jesus oral sal volg. Bedoelende dit maak nie saak wat gebeur nie hy sal altyd by Jesus wees en een van sy getroue volgers wees. Inplaas daarvan dat Jesus daardeur gevlei is, sê Jesus vir die persoon “Jakkalse het gate en voëls het neste, maar die Seun van die mens het nie eens 'n rusplek vir sy kop nie.”  En daarmee wil Jesus vir hom sê dat hy baie seker moet maak van sy onderneming want dit gaan nie noodwendig so glansryk wees soos hy dink nie. Om Jesus te volg beteken dat jy juis sal moet afsien van die dinge wat vir jou in die lewe vaste bakens is en wat aan jou sekuriteit bied. Dit beteken dat jy soos die ontdekkers van die vroegste tye moet waag op ’n pad waarvan jy nie altyd seker is wat die uitkoms gaan wees nie. Soos Abraham moet jy bereid wees om die onbekende in te gaan en slegs te vertrou op God dat Hy jou sal beskerm en sy beloftes vir jou sal waar maak. Om te bewys dat daar ’n groot afstand is tussen die besluit om iets te doen en dit met vertroue uit te voer illustreer Jesus dit deur twee voorbeelde van mense se reaksies wanneer mense besef dat hulle nou op Hom moet vertrou. Hy sê vir iemand “Volg my” en sy antwoord is dat hy eers net gou sy pa wil gaan begrawe. Op dieselfde uitnodiging aan ’n ander is die antwoord dat hy graag net eers sy familie wil gaan groet. Die gedeelte wil nie vir ons sê dat familie nie vir God belangrik is nie. Inteendeel die Bybel wys ons eerder hoe God juis familiebande gebruik om te wys hoe lief ons mekaar moet hê. Hy wil hiermee vir ons wys dat dit werklik vir mense moeilik is om volledig op Hom te vertrou en op die pad te gaan wat God jou wys.  Dit is baie maklik om met ’n breë brug oor ’n rivier te stap. Maar wanneer jy voetjie vir voetjie met net ’n boomstomp onder jou voete oor dieselfde rivier moet gaan is jy baie benoud. Jesus wys hierdie persoon wat met soveel bravade sê dat hy agter Hom sal aangaan dat gewoon menslikheid sal jou soms bangmaak en lewensomstandighede sal jou soms eerder met ander dinge besig hou as wat jy op God vertrou om jou in jou lewe te lei. Mense wil dikwels by predikers hoor dat Jesus nie wil hê dat jy moet swaarkry  nie. Sommige gaan sover as om te sê dat Jesus wil hê dat jy net die beste van die lewe ervaar en dat jy ryk sal word.  M.a.w. wêreldse rykdom word die geelwortel wat voor mense se neuse geswaai word om hulle te oortuig dat hulle Jesus moet volg. Jesus gebruik hierdie drie voorbeelde om te wys dat om Hom te volg dalk juis nie roemryk en glansryk gaan wees nie. Jy gaan dalk juis nie deel van die beste of wenspan wees nie. Daarom sê Hy duidelik dat Hy nie wêreldse sekuriteit het nie. Hy het nie ’n huis of enige wêreldse sekuriteite wat Hy enige iemand kan bied nie. Dit laat twee mense sommer dadelik dink dat hulle darem eers van die wêreldse dinge moet seker maak voordat hulle vir Jesus sal volg. In ons eie lewens wil ons weet hoe more en oormôre gaan lyk sodat ons voorbereid kan wees op die dinge wat op ons wag. Om Jesus met oorgawe te volg, hou egter in dat mens bereid moet wees om jou vertroue volkome op Hom te plaas en juis op ’n pad te gaan wat jy nie gedink het vir jou moontlik sal wees nie. Dit beteken dat jy bereid moet wees om te verander. Dit beteken dat jy doelbewus die roetine of gewoonte van jou lewe sal onderbreek en nie meer jou sekuriteit te soek in die mensgemaakte dinge van jou roetines en gewoontes nie, maar jou lewe volledig in God se hand te plaas. Om Jesus te volg sou teken dat jy al die bybedoelings soos om die belangrikste in sy koninkryk te wees of om voordeel te trek uit jou verhouding met Hom eenkant toe sal skuif  en met vertroue sal gaan op die pad wat Hy jou wys. Soos met Abraham, Moses, Dawid en ander sal dit jou beslis meer weerloos laat voel. Jy sal selfs onseker en bang wees, maar as jy hierdie pad met vertroue stap sal God jou ’n nuwe wêreld laat ontdek wat jy nie gedink het moontlik is nie. Jy sal die volheid van sy liefde ontdek en daar sal geluk en vrede in jou lewe wees wat jy nie gedink het moontlik kan wees nie. Jy staan vandag letterlik op die rand van ’n groot oomblik in jou lewe. Is jy bereid om op God te vertrou of wil jyself die pad vorentoe bepaal. God belowe nie vir jou die glans en glorie van hierdie wêreld nie, maar Hy belowe dat Hy deur Jesus aan jou die lewe sal gee vir altyd. Jy met net bereid wees om Hom te vertrou om hierdie nuwe wêreld vir jou oop te maak. Amen Sondag 1 Maart 2016 (Aand) Psalm 46 Gs 177 (toetrede) Gs 219:1-3 Gs 484:1,3 (melodie Gs 283) Gs 518 Gs 519 Jesus het vir ons gesterf (Gs 278) Studente kan nie met die rustigheid van vrede na hulle klasse stap nie en ons wonder of dit nog ’n goeie ding is om jou kinders na ’n universiteit te stuur. Talle munisipaliteite in die land is bankrot. Nie omdat iets ongewoon gebeur het nie, maar gewoon omdat die stadsrade en munisipale bestuurders bedrog pleeg en geld verduister of op ’n buitensporige manier hulle vriende vergoed vir dienste gelewer met geld wat op ’n baie beter manier gebruik kon word. Ons nasionale parlement is ’n sirkus en die vlam van haat word voortdurend tussen rasse aangeblaas vir politieke gewin. Misdaad is uit verhouding en jy kan nie gaan vakansie hou of selfs in die nag gaan slaap sonder om te wonder of jy die volgende slagoffer van misdaad gaan wees nie. Mense kleef nie meer goeie waardes aan nie. Seksuele bandeloosheid, pornografie, dwelms en vulgêre vloek en skeltaal is nie meer vreemd nie. Kerke loop leeg en al meer mense vervreem hulself van die kerk Gs 518 Somtyds voel dit asof ’n mens voor ’n ontsaglike waterval staan wat so oorverdowernde neerstort na onder dat jy nie eers jouself kan hoor nie, en jy weet jy moet nog stroomop beur om bo-uit te kom. Dit voel asof alles jou net sal oorweldig en dat jy geen kans het om uit hierdie vervalle wêreld enige sin te maak nie. Dan gebeur dit dat ons dikwels bymekaar kla oor al die sleg wat aangaan. Ons raak morbied omdat alles agteruitgaan en dit nie lyk asof enige iemand bereid is om ’n verskil te maak nie. Ons het ’n klomp klakouse geword sonder dat ons besef het dat dit is hoe ons lewens verword het. Dit is nie sleg dat ons dit in ons lewens raaksien nie. Dit sou baie erger gewees het as ons dit nie raakgesien het nie, want dan sou ons nie bereid gewees het om aan onsself te werk nie. Paulus skryf dat dit ’n goeie ding is om raak te sien dat die wêreld jou kan oorweldig. Hy sê dat wanneer ons dan in magteloosheid sien dat hierdie lewe het buite ons beheer geraak, dan kan ons in daardie oomblik van swakheid eintlik juis sterk word omdat ons dan op ons heel beste weet dat ons God in ns lewens nodig het. Dit is wanneer ons so voel wat dit dan verfrissend is om ’n psalm soos Psalm 46 te lees. Daar is baie redenasies oor hoe die inleiding van dié psalm verstaan moet word. Vir my voel dit reg om te aanvaar dat hierdie lied deur jong meisies gesing is en mens as’t ware die mooi suiwer stemme van die jongmeisies moet hoor wanneer jy die psalm lees. Dalk kan mens ook sommer die onskuld van die meisies in verband bring met die hoop en die vertroue wat deur hierdie lied uitgespreek word. Kom ons lees nou die lied saam. Hier is twee gedagtes in hierdie lied wat ek graag klem op wil lê in die prediking. Die een is vers 8 waar staan “Kom kyk wat die Here gedoen het, watter ontsettende dinge Hy op die aarde tot stand bring” Ons kan aan al die vreeslike dinge dink wat ons bang en onseker maak of dalk ook kwaad maak en vol haat, maar dan kom bo al hierdie gedagtes, die suiwer stemme van jong meisies wat sing dat God groter en beter is as alles wat ons in hierdie wêreld kan ervaar. ’n Simfonie wat getuig dat al loop alles verkeerd weet ons dat God is die een wat ons beskerm. Hoor hierdie suiwer onskuldige stemme wat sing: ‘Kom kyk wat die Here gedoen het.” Neem tyd en kyk behoorlik wat God doen. Ja, met alles wat ons ervaar sal dit groot geduld en behoorlike konsentrasie verg, want alles en almal se geraas wil God se stem uitdoof. Die hoofopskrifte van die koerante, die duisende liggies van ons besig wees in die wêreld en die konstruksies van handewerk kondig die mens se werk aan. Dit is soms wreed en verskriklik maar soms ook wonderlik. Daarteen hoor ons in hierdie lied dat God nie ’n bemarkingsveldtog het om ons aandag te vestig nie. Hy nooi ons gewoon: Kom kyk... Ja, dit is God wat vrede moontlik maak. Dit is God wat ons beskerm en ja, dit is Hy wat vir ons lewe gee vir altyd. Alles op hierdie ou aardetjie kan maar verkeerd loop, ons kan steeds weet dat God in beheer is. Dit bring my by die tweede gedagte wat ek wil beklemtoon nl. vers 10 waar staan: “Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde.” Hier staan letterlik “Wees stil en weet dat ek God is.” Hou op om deel te wees van die gejaag van hierdie wêreld. ’n Gejaag wat jou geen voordeel inhou en geen sekerheid oor die lewe bring nie. Raak ’n oomblik stil en word bewus dat die lewe baie meer inhou as jou eie selfhelp sisteme en plannetjies wat vir jou so belangrik geword het. Wanneer ons so jaag en alles so op ons eie probeer regmaak is ons nie in staat om naby God te leef en sy stem in ons lewens te hoor nie. Hoor vanaand hierdie lied wat uitsing: Kom kyk wat God gedoen het. Hy het vir jou meer gedoen as wat jy ooit verdien. Hy gee jou sy liefde op so manier dat jy rustigheid en vrede in jou gemoed kan hê. In Romeine 8: 37-39 staan: “Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. (38) Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte (39) of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.” Jy moet egter die kuns bemeester om bo-oor die onreg en wreedheid van die wêreld na God te kyk en te sien hoe hierdie liefde wat Hy in Jesus Christus gee vir jou ewig vasstaan. Toe Hy gesien het hoe die mens moedeloos in onreg gestaan het, het God self ingegryp en was sy liefde vir ons so groot dat Hy mens geword het en in hierdie onreg van die wêreld sy lewe prysgegee sodat ons die lewe kan hê. Weet ook dat jy ook in staat is om stil te word voor God en die grootheid van sy liefde te ervaar. Die siekte van ons tyd is dat ons ’n oplossing vir omtrent enige iets moet kan hê. Met hierdie pragtige lied, psalm 46, stel God jou gerus. Raak net weer stil sodat jy sy liefde letterlik in jou kan ervaar en kan weet bo alles in hierdie wêreld is Hy God. Sy liefde vir jou staan in Jesus Christus vas en seker en dit kan deur niks of niemand weggeneem word nie. Amen Kom ons raak nou stil voor God. Sondag 1 Maart 2016 (Oggend) Spreuke 3:1-6 Gs 283:1,2 (Gebed vir ons land) Gs 380:1,2; Gs 245:1,2 “Maak my nou stil Heer” Stilgebed Votum en seën Gs 209 Gs 179:1-3 Gs 505:1,4 Seënbede (verwerking van Gs 283:1,2) Seëngroet (Gs 278) “Hou op om te probeer gelowig wees en wees net wat God jou in Jesus gemaak het.” Ons het vandag die geleentheid om ’n klein kindjie te doop. Dit is altyd ’n wonderlike geleentheid en ons is dankbaar dat God op so wyse sy liefde vir ons bevestig. Onwillekeurig dink mens ook aan wat word uiteindelik van so kindjie wat in die kerk gedoop word. Enige mens wil seker tog net die beste vir sy kindertjies hê en ons glo dat dit met Jaco en Clarissa dieselfde sal wees. Maar wat is die beste wat mens vir ’n kind kan gee? Ja, dit is waar dat dinge soos ’n goeie huis, goeie opvoeding en ander geleenthede belangrik is, maar die belangrikste wat mens jou kind kan gee is om te weet van die reddende verlossing wat God deur Jesus Christus moontlik gemaak het. Wat is daar beter om jou kind te gee as om hom of haar die pad na die ewige lewe te wys? Vir meeste mense is dit belangrik om te weet of hulle eendag in die hemel sal kom. Daarom sê mense dikwels dat hulle glo omdat hulle graag hemel toe wil gaan of hulle sê dat jy gehoorsaam moet wees want dan kan jy hemel toe gaan Met ’n geliefde se dood sal hulle sê hy het foute gehad, maar was darem nie ’n slegte mens nie en as mens deur die begraafplaas loop dan lyk dit op die grafstene asof almal wel hemel toe is. Maar Jesus beklemtoon dit dat geloof in Hom kan nie sommer net napraat wees nie dit moet ’n opregte oortuiging in jou hart en lewe wees. In Matteus 7 sê Hy “Nie elkeen wat vir my sê “Here, Here” nie sal die koninkryk van die hemel ingaan nie. Daar is baie mense wat graag die titel van gelowige wil hê. Inteendeel hulle doen oneindig baie moeite dat mense hulle ook as ’n kind van God moet sien. Hulle katkiseer, lê belydenis van geloof af, trou in die kerk en bring selfs hulle kinders so af en toe na die kategese. Maar hulle het nie ’n lewende verhouding met God nie en die enigste geloof wat daar by hulle ter sprake is, is die naam op ’n lidmaatskapsregister en die praat wat hulle doen dit. Verder is daar geen sprake van ’n lewende verhouding met Jesus Christus nie. Met hierdie lidmate het ons oneindig probleme en frustrasies in die kerk. Wanneer jy moet hulle praat sal hulle sê: “Nee dominee dis waar, ’n mens moet kerk toe gaan. Nee, ek belowe Sondag sal jy my in die kerk sien.” En natuurlik sien jy hom nooit weer totdat jy hom weer by sy huis gaan besoek nie. Dit is hulle wat oneindige verskonings het waarom hulle nie betrokke kan wees by die dienswerk en aktiwiteite van die kerk nie. Ek wil hê julle moet na die volgende foto kyk. Wat mens raaksien is ’n baie mooi en gesonde perd wat op groen weiding staan. Wat nogal bietjie verduidelik waarom hy ’n so goeie kondisie is. Gestel ek wil nou van hierdie perd ’n koei maak. Dadelik sal julle sê dat ek ’n bietjie gek is. ’n Perd is ’n perd en ’n koei is ’n koei en jy kan nie die een in die ander verander nie. Maar wag as ek ’n paar ordentlike horings opsit en jy kyk so vinnig dan kan die perd nogal deurgaan vir ’n koei. Ongelukkig weet ons dat dit nie saak maak wat jy doen nie en uit watter hoek jy die saak bekyk nie, dit sal altyd ’n perd bly. En dan nog boonop ’n hings ook. Daarom moet ons ook in ons eie lewens besef, jy is wat jy is. Hoor mooi wat ek sê: Jy is wat jy is. Ek sê nie dat jy nie kan verander nie, want by God is enige iets moontlik. Maar as jy nie met jou volle hart oortuig is dat Jesus jou Saligmaker en Verlosser is nie, dan help dit nie jy doen al die kerklike dinge nie. God verwag van ons opregte geloof en toewyding. Jesus het self gesê ‘Nie elkeen wat vir my sê Here Here sal in die koninkryk van God kom nie.” Salomo sê in Spreuke 3:1-6 Pro 3:1-6 My seun, wat ek jou leer moet jy nie vergeet nie, hou vas aan wat ek jou voorskryf, (2) want dit sal vir jou 'n lang lewe verseker, dit sal maak dat jy 'n vol lewe het. (3) Moenie dat liefde en trou by jou ontbreek nie; leef daarmee saam, maak dit 'n deel van jou lewe. (4) So sal jy guns verwerf en byval vind by God en mens. (5) Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie. (6) Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop. Ek wil in hierdie gedeelte graag klem lê op vers 5 & 6. 5) Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie. (6) Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop. Salomo wat hierdie wysheidswoorde geskryf het, het verstaan dat ’n mens misluk om gehoorsaam te wees aan God en om in sy liefde te leef wanneer jy probeer om iets te doen wat jy nie is nie. Jy sal nie dit regkry om ander te oortuig van God se reddende liefde as jy dit nie self glo nie. Daarom is sy raad dat mens volkome op God moet vertrou en God in alles in jou lewe moet ken. M.a.w. jy moet ’n lewende verhouding met God hê. Wanneer jy werklik glo en jou vertroue op God plaas, kom daar ’n verandering in jou lewe wat jou in staat stel om elke dag ’n lewende getuie vir God te wees. Johannes skryf ook daaroor in 1 Johannes 3:9-10. Hy sê: (9) Iemand wat 'n kind van God is, doen nie meer sonde nie, omdat die Gees van God in hom bly; en hy kan nie meer sondig nie, omdat hy uit God gebore is. (10) Hiéraan is dit duidelik wie kinders van God en wie kinders van die duiwel is: iemand wat nie regverdig lewe nie en nie sy broer liefhet nie, behoort nie aan God nie. Dit is eintlik net logies. Wanneer jy regtig ’n kind van God is, sal jou lewe so deur sy liefde en genade gevul wees dat dit vir jou die natuurlike manier van leef sal wees. Jy sal nie hoef te probeer gelowig wees nie, maar jy sal dit elke dag net doen en leef. Omdat jy uit God gebore is, sal jy nie hoef te probeer om iets anders te wees as wat jy is nie, jy sal in alles in jou lewe net kind van God wees. Die Fariseër Nikodemus het stilletjies in die nag sodat ander hom nie sien nie na Jesus toe gegaan en gevra wat moet hy doen om die ewige lewe te kry. Jesus het gesê dat hy weer gebore moet word. Op sy vraag hoe ’n mens twee keer gebore kan word, want jy kan tog nie weer in die baarmoeder terugkom nie, het Jesus gesê: “Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie. Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees.” Wanneer jy deur die Gees gebore is, word jy kind van God en is jy anders as die sondige wêreld. Natuurlik sal enige iemand vra of ’n mens dan nou werklik sondeloos kan wees. Johannes sê : “Hiéraan is dit duidelik wie kinders van God en wie kinders van die duiwel is: iemand wat nie regverdig lewe nie en nie sy broer liefhet nie, behoort nie aan God nie.” ’n Kind van God sien die ongelooflike offer raak wat God deur Jesus Christus gebring het en hy rig sy lewe dankbaar daarvolgens in. ’n Kind van God laat toe dat God die Heilige Gees jou lewe vervul en jou lei op die pad van waarheid. ’n Kind van God leef in die liefde wat God deur Jesus Christus moontlik gemaak het. Indien jy as kind van God in hierdie wêreld wil leef moet jy nie op jou eie kragte en vermoë staatmaak nie, maar op dit waartoe God jou deur die werking van die Heilige Gees in staat stel. Paulus skryf in Romeine 12:2: “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.” Vertrou volkome op God en moenie dat jou geloof net praat wees nie, maar gee werklik jou hart en lewe vir Hom. God sal deur die Heilige Gees jou lewe in besit neem en jou hart en gedagtes nuut maak. Dan sal jy nie hoef te probeer om ’n Christen te wees nie, maar jy sal dit elke dag van harte wees, omdat dit is wat jy is. Amen Sondag 21 Februarie 2016 Daniël 9:1-19 Gs 388:1,2; Gs 396:1,3,4; Gs 171:1,2 Gs 345:3,4 Gs 257:1-3 Gs 387;1,3Tafel voorberei Gs 267:1-4 Gs 278 (Jesus het gesterf) Hoeveel keer het jy al die regering gekritiseer, of die skool of selfs die kerk? Soms voel ons dat ons met reg kritiek lewer en ongelukkig mag wees oor hoe mense optree. Toe Suid-Afrika in die vyfdagtoetse so sleg teen Engeland gevaar het, het dit my opgeval hoe skerp sekere oudspelers in hulle kritiek teen die span was. Toegegee, mens sou kon sê dat hulle dit verdien het, want hulle het darem wraggies treurig gespeel. Maar dit kon anders wees. Hulle kon advies gegee het en die spelers moed ingepraat het soos ’n paar mense wel gedoen het. Vir my het dit amper gevoel soos ’n skip wat sink, maar die kaptein spring eerste af en dan kritiseer hy die matrose vir alles wat hulle verkeerd gedoen het. Iets daarvan ervaar ons dikwels in die kerk ook. Lidmate staan afsydig teenoor die dienswerk wat in die gemeente gedoen word, maar is dan baie gou om kritiek te lewer oor alles wat nie na hulle sin is nie. Wanneer alles goed gaan dan verbind hulle hulself gretig met die suksesse van die kerk, maar wanneer dit sleg gaan weet mens niks van hulle anders as die kritiek wat hulle lewer nie. Ek het ’n wyle terug met ’n familielid ’n lang gesprek gehad oor wat hy meen die diens is wat die kerk behoort te lewer. Toe ek hom vra wie die kerk is na wie hy verwys het hy net hardkoppig bly sê “dit is die kerk”. Jesus het ’n gelykenis vertel waarin Hy ’n Fariseër en ’n tollenaar se gebede uitgebeeld het. Die Fariseër het gebid: “O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie.”( Luk 18:11 ) Soms voel dit vir my asof ons in die kerk ook so na ander met al hulle sondes en ellende kyk en dan dankie sê dat ons tog nie so sleg en treurig soos hulle is nie. Ek wil graag hê dat ons nou die teksgedeelte sal lees. Daniël 9:1-19 Wie was Daniël? Hy sluit homself in wanneer hy ’n skuldbelydenis voor God doen. Hy praat nie van hulle sondes of die sondes van die volk nie, maar wat ons verkeerd gedoen het. Die dinge wat hy in sy gebed meld wat hulle verkeerd gedoen het, is onder andere: gesondig, hardkoppig, nie geluister vir die profete nie, het afvallig geword en nie na God geluister nie, Maar was Daniël werklik so slegte en sondige mens soos wat hy homself in hierdie gebed uitbeeld? Daniël was eintlik ’n baie merkwaardige mens. As jongman het hy ervaar hoe Nebukadnesar van Babilonië Jerusalem ingeval het en hoe Israel die laaste stukkie sekuriteit wat hulle gehad het verloor het. Daniël was onder die groep jongmans wat Nebukadnesar opdrag gegee het dat hulle opgelei moes word om in sy paleis diens te doen. Daar staan in Daniël 1: 3,4 “Die koning het vir Aspenas, sy hoofpaleisbeampte, beveel om uit die Israeliete jongmanne na die paleis toe te bring, uit die koninklike geslag en uit die geslag van vername mense. Die jongmanne moes sonder liggaamsgebrek wees, mooi, toegerus met kennis, verstandig, bekwaam en in staat om in die paleis diens te doen. Hulle moes onderrig word in die Galdeërs se skrif en taal.” Dit is duidelik dat Daniël van jongs af n merkwaardige persoon was. Dit is eers wanneer daar van Daniël verwag word om sy godsdienstige oortuigings prys te gee wat ’n mens Daniël leer ken as ’n jongman wat aan sy geloof gebind is. Hy wou nie homself verontreinig deur die kos te eet wat voorgeskryf is nie, maar het gehou by die voorskrifte wat deur sy geloof bepaal word. Daniël wys hiermee eintlik dat hy nie ontrou en roekeloos teenoor God leef nie en waarskynlik ook nooit so voor God geleef het nie. Dit is duidelik dat al was Daniël omring deur die ’n volk wat ongehoorsaam was, het hy steeds aan God getrou gebly. Selfs ook toe hulle in Babilonië was, het hy nie toegegee aan alles wat tot sy beskikking was nie, maar het hy gekies om getrou te bly aan die lewende God. Daniël weier om afgode te aanbid wanneer almal gedwing word om dit te doen en wanneer hulle hom probeer dwing om nie tot God te bid nie, hou hy steeds by sy gebruik om drie maal per dag tot God te bid al kan dit hom sy lewe kos. Wat Daniël dan nog meer merkwaardig maak is wanneer hy tot God bid, praat hy nie van die sonde en skuld van die volk asof hy niks daarmee te doene het nie. Hy sê nie “hulle sondes” en “hulle ongehoorsaamheid” nie, maar praat van wat “ons” gedoen het en hoe groot “ons” skuld voor God is. Hy het eintlik die volste reg om vinger na die volk te wys en homself uit te sluit van hulle skuld, maar verbind hom volledig met hulle skuld en lot. Wanneer ek hierdie gebed lees dan verwonder ek my vir die feit dat Daniël homself vereenselwig met die sonde en skuld van die volk. Daar is ’n paar redes wat mens ou kon aanvoer waarom hy dit doen. Daniël het sy verhouding met God gesien as iets wat plaasvind binne die raamwerk van God wat ’n volk geroep het om Hom te aanbid en vir wie God sou sorg. Alhoewel Daniël drie maal per dag op sy eie gebid het en God aan hom deur drome en visioene openbarings gegee het, het Daniël homself nooit los van die volk Israel gesien nie. Jesus leer die dissipels bid en dan leer Hy hulle om te bid: ”Ons Vader wat in die hemel is” Daarmee bevestig Jesus ook die band wat ons met mekaar het en hoe dit ook in gebed uitgespreek moet word. Paulus wys ons ook daarop dat ons deel van die geloofsgemeenskap is en dat die gelowiges saam die liggaam van Christus vorm. Hy praat ook van Christus wat die fondament is en die gelowiges saam word opgebou as ’n heilige tempel vir God. Ons sien hierin en in Daniël se gebed dat ons nie ons eenheid met God los kan maak van ons eenheid met God se kinders nie. Daniël wys dat jy nie net aanspraak kan maak op God se seëninge vir die volk nie, maar dat jy jou ook moet vereenselwig met die skuld wat hulle het. Hy verwys na God wat deur Jeremia die belofte gegee het dat Hy die volk weer in ere sal herstel. Dit is ’n baie belangrike belofte wat in die konteks van hulle omstandighede waarskynlik nog belangriker geword het. God sal hierdie swaarkry laat verbygaan en die volk weer sy seëninge laat ervaar. Die manier waarop jy deel in die seëninge van die volk is om ook te deel in die skuld wat die volk voor God het. Hy leef die inhoud van 1 Korintiërs 12:26 in volle betekenis van die woord uit. Daar staan: “As een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly.” Daniël stel ook aan die volk die regte voorbeeld. Hy wys hulle na die pad van gehoorsaamheid en waar die volk in ootmoed hulle skuld voor God kan bely in die hoop dat die belofte van Jeremia vir hulle almal waar sal word. Sy gebed is terselfdertyd die leiding wat hy die volk gee om soos hy hulle skuld voor God te bely. Al kan hy hom distansieer van die sleg van die volk, doen hy dit nie, maar sluit homself daarbý in en stel aan hulle die voorbeeld van hoe mens jou sonde en skuld voor God bely. In nog ’n baie groter en oortreffende maat het God deur Jesus dit vir ons gedoen. Jesus het hom met die skuld en ellende van die mens vereenselwig en was bereid om sy lewe af te staan sodat ons daardeur kan leer dat in en deur God se liefde lewe vir ewig moontlik is. Hy word soos ’n sondaar en misdadiger gevange geneem, verhoor en gemartel en word saam met misdadigers gekruisig waar Jesus met sy lewe betaal vir iets wat Hy nie gedoen het nie. Deur sy lewe te gee het ons hoop en sekerheid. Hy doen dit nie vir jou alleen nie, maar vir elke mens. Maar wat dan van jou? Hoe sien jy jouself en die rol wat jy in die kerk vertolk? Sien jy jouself alleen met God of is jy deel van God se volk hier op aarde? Het jy m.a.w. die oudkaptein of speler geword wat net kommentaar lewer en nie ’n bydrae lewer nie? Is jy net ’n private individu met jou eie oortuiging of het jy ’n lewende verhouding met God waarin jy volledig deel is van die liggaam van Christus? Hoe jy hierdie vrae antwoord sal jou waardes bepaal en ook hoe jy die rol van die kerk in jou lewe sien. Dit sal bepaal watter band jy met die ander lidmate rondom jou het en hoe jy bid en wat jou verstaan van sonde is. Ons verhouding met God is in sy diepste wese gemeenskaplik van aard. God het deur die geskiedenis gewys dat Hy mense roep om deel van sy volk te wees en op so manier betekenis in die wêreld te hê. Daarom staan ons nie afsydig teenoor die skuld wat ander het nie, maar bid saam met hulle vir vergifnis in die hoop om in die belofte van lewe te deel. En selfs al sien jy jouself as onskuldig het jy steeds die verantwoordelikheid om aan ander die regte leiding te gee. Dit is wat Daniël gedoen het. Dit maak nie saak hoe jy na die kerk in die verlede gekyk het nie. Dit is nou die geleentheid om jou eenheid in die geloof met ander te demonstreer. As die groot offer wat Jesus Christus gebring het vir jou betekenis het, sal jy nie meer op die kantlyn staan nie, maar jouself volledig met ander se lot verbind deur hande te vat en in liefde vir mekaar verantwoordelikheid te aanvaar. Net soos Daniël dit gedoen het en soos Jesus sy lewe t.w.v. ons almal opgeoffer het. Paulus skryf vir die gelowiges in Efese : Ef. 4:4-7 Daar is net één liggaam en net één Gees, soos daar net één hoop is waartoe God julle geroep het. (5) Daar is net één Here, één geloof, één doop, (6) één God en Vader van almal: Hy wat oor almal is, deur almal werk en in almal woon. (7) Aan elkeen van ons is 'n genadegawe gegee volgens die mate waarin Christus die gawes uitgedeel het. Deur saam by die nagmaaltafel aan te sit is alreeds een manier om ons eenheid in geloof te wys. Amen Wanneer ons vandag by die nagmaaltafel aansit, is dit nie omdat ons God se liefde verdien nie, maar omdat ons besef dat ons net soos die wêreld skuldig staan voor God en hierdie ongelooflike liefde nodig het. Wanneer ons dan die brood eet en die wyn drink met Jesus se dood in gedagte, doen ons dit ook met sekere voorveronderstellings: • Ons is almal skuldig voor God. Ons word nie deur die nagmaal beloon vir ons goeie en getroue lewe nie, maar word deur God vergewe vir die skuld waaraan ons almal deel het. • Ek deel nie in die nagmaal omdat ek anders en beter as ander is nie, maar omdat God ons almal in Jesus begenadig en die bevry van die skuld waaraan ons almal deel het. • Ons gebruik nagmaal om daarmee ook te getuig dat ons deur ons geloof in Jesus Christus in sy liefde aan mekaar gebind is. • God versorg ons met hemelse en aardse brood, daarom versorg ons uit dankbaarheid ander op dieselfde manier . • God stuur ons om van sy versoening, sorg en sy liefde te getuig. • Ons vier nagmaal, omdat Jesus aan sy dissipels gesê het dat hulle dit tot sy gedagtenis moet doen en die brood en wyn herinner ons daaraan dat ons verlos is deur die dood en opstanding van Jesus Christus . • Ons doen dit met die vaste oortuiging dat ons in dankbaarheid ons lewens wil verander en lewendig kerk van Jesus Christus in hierdie wêreld wil wees. Amen Sondag 14 Februarie 2016 Filippense 3:7-11 Gs 393:1,3; 380:1,2; Gs 386:1 Toetrede: Gs 171:1,2 Gs 207:1,2 Gs 286 Gs 278 (eie beryming) Ons neem dikwels maar op ’n oppervlakkige manier kennis dat dit nou die lydenstyd in ons kerklike jaar is. In ons gemeente begin ons vandag die lyding van Jesus Christus herdenk. Dit loop aaneen totdat ons die dood en opstanding van Jesus Christus herdenk. Die algemene gebruik in christelike kerke oor die wêreld heen is om reeds op die voorafgaande Woensdag die lyding van Jesus te begin herdenk. In hierdie tyd dink ons aan die fisiese lyding van Jesus Christus en wat dit vir ons beteken. Die lydenstyd het doelbewus te doen met selfondersoek, bekering, gebed en toewyding. Dit is ’n tyd waarin elke gelowige sy lewe voorberei om die lewende God te ontmoet. Omdat Jesus gely en gesterf het en op so manier betaal het vir ons sondes, kan ons lewe. Omdat Jesus uit die dood opgestaan het, sal ons ook opstaan en vir ewig in God se koninkryk lewe. Die herdenking van Jesus se lyding het oor die eeue ’n lang ontwikkeling gehad. Aanvanklik is Jesus se lyding nie oor ’n lang tydperk gevier soos ons dit vandag doen nie. Aanvanklik was dit net vir 40 ure herdenk. Die 40 ure was ’n simboliese verwysing na die 40 ure wat Jesus in die graf was. Vroeg in die 3e eeu is die herdenking van die lyding verleng na 6 dae en teen ongeveer 800nC is dit verander na 40 dae. Die veertig dae stem ooreen met die tydperk van Jesus se versoeking in die woestyn. Eintlik is die tydperk 46 dae, maar Sondae is nie ingereken nie. Die feit dat die kerk Jesus se lyding oor so lang tydperk begin herdenk het dui op die gelowiges se toenemende erns om hierdie groot offer van God se liefde in die wêreld bekend te maak. Wat baie belangrik tydens die viering van die lydenstyd was, is dat dit gepaard gegaan het met ’n vas. In die Bybelse tyd en ook daarna het dit beteken dat jy jouself sekere dinge, veral kos, sou ontsê om jou erns en verootmoediging voor God te illustreer. Die lus en hongerpyne wat jy ervaar sou jou dan herinner aan die rede waarom jy vas. In die geval van die herdenking van Jesus se lyding sou jy dan juis deur jou begeerte na kos herinner word aan waarom jy dit doen en so sou Jesus se swaarkry en sy dood voortdurend in jou gedagtes wees. Aanvanklik was dit maklik want mens kan sekerlik darem veertig ure uithou. Maar toe dit ses dae en later veertig dae geword het, was dit baie moeiliker om dit na te kom. In die veertig dae (eintlik 46 dae) word Sondae nie getel nie en is daar nie gevas op ’n Sondag nie. En ook is die vastydperk vasgestel op dagbreek tot sonsondergang. Op die manier het mens darem nie van die honger doodgegaan nie. Deur die geskiedenis het mense verskillende dinge gedoen om bewus te wees van die feit dat God sy Seun opgeoffer het om vir ons lewe moontlik te maak. • Mense het hulle in kloosters gaan afsonder • ander slaan hulself in hierdie tyd sodat hulle bewus kan wees van die pyn wat Jesus ervaar het. • Party dra elke dag ’n houtkruis • Daar is mense wat hulself aan ’n kruishout laat ophang en selfs ook laat vasspyker • By sommige is dit die gewoonte om in hierdie tyd te vas • Kerke reël spesiale opvoerings soos die Passiespele in Oberammergau en ander plekke soos Hermanus, Kango Grotte ens. • Onsself plaas dit op ’n kalender en wy vir ses weke (40 dae) al ons aandag aan die lyding en sterwe van Jesus en ons hou ’n sangdiens saam met die susterkerke en daar is nog talle ander voorbeelde Die werklike lyding wat Jesus deurgegaan het, het natuurlik nie oor ’n veertig dae tydperk geduur nie. Die dag voor Jesus se kruisiging het Hy saam met die dissipels die paasmaal geëet. Dit is tydens hierdie geleentheid wat Jesus bekend gemaak het dat Hy deur een van die dissipels verraai sou word. Later die aand in die tuin van Getsémané het Judas Hom verraai. Die volgende môre vroeg is Jesus deur Pilates verhoor, Hy verskyn ook voor Herodes en Pilates laat Hom daarna martel en gee opdrag dat Jesus gekruisig moet word. Drie-uur daardie middag het Jesus sy laaste asem uitgeblaas. Die fisiese lyding, alhoewel baie intens, was slegs oor ’n tydperk van ’n dag. Die kerk gee egter ook in die veertig dae aandag aan die bespotting, miskenning en verwerping van Jesus saam met die vreeslike lyding wat Jesus deurgemaak het vanaf sy verhoor tot sy dood aan die kruis. Vandag wil ek aan net een aspek van Jesus se lyding en dood aandag gee. In Johannes 3:16 staan: “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.” Wanneer ons dus in die volgende klompie weke tot by Goeie Vrydag en Paassondag Jesus se lyding herdenk, dink ons spesifiek aan hierdie ongelooflike offer wat God t.w.v. ons gebring het. God het nie nodig gehad om meer te doen as wat Hy al oor eeue vir die mens gedoen het nie, maar omdat sy liefde vir ons so groot is, was Hy bereid om sy Seun op te offer sodat ons deur Jesus die lewe kan hê. God staan iets af, sodat ons die grootheid van sy liefde kan ervaar. Jesus word misken, mishandel en vermoor, sodat ons die grootheid van God se liefde kan ken. Jesus self staan sy lewe af sodat ons vir ewig daardeur van sonde en skuld bevry kan word. Dit is daarom vir ons belangrik om juis na aanleiding van Johannes 3:16 raak te sien dat God sy Seun prysgee sodat ons daardeur bevoordeel kan word. Nou wil ek hê dat ons net weer die kort stukkie uit Filippense 3 sal lees. Paulus vertel hier hoe hy dinge wat voorheen vir hom belangrik was prysgegee het. Amper soos om te vas, net op ’n permanente basis. Al die dinge wat so belangrik was en wat vir hom lekker was om op te roem, dit gee hy nou prys. Al wat hy wil doen, is om Jesus Christus te ken. Dit oortref alles wat hy voorheen geken het in waarde. Hy sê: “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.” Die enigste manier hoe Paulus dit kan doen, is om daardie dinge wat voorheen vir hom so belangrik was en wat vir hom soveel sekuriteit gebied het, nou prys te gee en doelbewus daarna te streef om voluit te deel in die lyding en sterwe van Jesus Christus. Deur nou net maar ’n gewone persoon in die samelewing te wees wat nie roem op agtergrond en skrifgeleerdheid nie, maak Paulus homself intens bewus van die groot offer wat God in liefde deur Jesus Christus ook vir hom gebring het. As ek nou dink aan wat God deur Jesus prysgegee het en die feit dat Jesus self gekies het om gehoorsaam te bly en sy lewe prys te gee en ek dink aan die sekuriteit wat Paulus t.o.v. sy agtergrond prysgegee het, dan wonder ek wat is dit wat ons bereid is om te doen. Dit is nie ons gebruik om te vas nie, maar wat doen ons om hierdie ongelooflike boodskap van redding en verlossing altyd vars en nuut in ons lewens te hou? Daarom het ek besluit dat ek hierdie veertig dae tot Goeie Vrydag myself ook gaan dwing om elke dag op ’n bewustelike manier te dink aan die ongelooflike groot offer wat God gebring het, sodat elkeen wat in Jesus glo die ewige lewe kan hê. Ek het gedink aan wat is die dinge waarvan ek hou waarvoor ek lus sal word. Daarom gaan ek in hierdie veertig dae nie koffie drink nie en ook nie sjokolade eet nie. Ek weet ek sal lus word daarvoor, maar dit sal my herinner daaraan dat God baie meer as dit gegee het, sodat ek die lewe kan hê. Maar daarmee saam gaan ek elke oggend en aand in my gebede spesifiek dankie sê dat God ons so lief het dat Hy sy Seun vir ons opgeoffer het. Ek daag elkeen van julle ook uit om te gaan dink wat kan jy in hierdie veertig dae kan doen, sodat jy ook voortdurend bewus kan wees van die offer wat God in liefde vir jou gebring het. Maar onthou dat dit nie ’n uitdaging is om te kyk hoe lank jy sonder iets kan klaarkom nie, dit moet iets wees wat jy doen sodat jy sal onthou: “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.” Amen Sondag 17 Januarie 2016 1 Korintiërs 3:9-13 Gs 553; Gs 514:1,2; Flam 34 Daarom Toetrede: Gs 526 Gs 530:1-3 Gs 271:2 Gs 308:1-5 Seënbede (Gs 278) Almal van julle het seker al die preek gehoor van die talente. In die preek word verwys na die gelykenis wat Jesus vertel het van die man wat vir drie van sy werkers goue muntstukke gegee het en hulle moes daarna omsien. Die een met vyf het dit verdubbel en hy is aangeprys en die een wat twee muntstukke ontvang het, het dit ook verdubbel en hy is ook geprys vir sy harde werk. Die een wat egter net een muntstuk ontvang het, het syne begrawe omdat hy bang was om dit te verloor en die eienaar het met hom geraas en gesê dat dit wat hy het, sal ook van hom weggeneem word. Dan word hierdie gelykenis gebruik om te vertel hoe God aan elkeen talente gegee het en hoe jy hierdie talente moet ontwikkel. Hiermee saam het ek al dikwels gehoor hoe ouers hulle kinders troos dat hulle nie sleg moet voel omdat hulle nie span gekry het of dalk ’n wedloop gewen het nie. Die woorde waarmee die kindertjies dan getroos word, is dat hulle wel iets sal vind waarmee hulle die beste sal wees. Want... God gee mos aan almal talente waarmee jy kan presteer. Jy moet net moeite doen om hierdie talent te ontdek en dit dan volgens die gelykenis te ontwikkel, dan sal jy in iets die beste wees. Maar is dit regtig die waarheid? Wat nou as jy jou hele lewe deurgaan en jy kry nie iets waarmee jy beter as ander is nie? Op die skerm is ’n foto van drie van die wêreld se topatlete? Guy, Gatlin en Bolt. Wie gaan die wedloop wen? Ja, sonder twyfel is dit Husain Bolt wat gaan wen, want hy is die rekordhouer en die vinnigste van hulle almal. Maar waarom sal die ander dan teen hom deelneem? Sê nou maar Bolt val dan kan een van die ander wen. Maar hy sal steeds nie kan sê dat hy die beste is nie, want Bolt het nog altyd die vinnigste tyd opgestel. Hulle neem week na week deel om hulle beste op die baan te gee. Al weet hy voor die skoot klap dat Bolt gaan wen, gee hy nog steeds sy beste omdat dit is wat hy kan doen. Maar onthou dit gaan nie net oor Guy en Gatlin wat wel top atlete is nie, maar ook oor daardie ander atlete wat sewende en agtste kom en steeds met oorgawe deelneem. Ek het die vakansie ’n boek gelees wat my bewus gemaak het daarvan dat dit belangrik is dat elke mens moet weet dat God nie van jou verwag om die beste te wees nie, maar dat jy jou beste moet gee en dat jy tevrede moet wees met die rol wat jy speel met die talente wat jy wel het. Die boek wat ek gelees het, was ’n outobiografie oor ’n sangeres. As julle op die skerm kyk dink bietjie of julle weet wie dit is. Sy is baie beroemd en die sanger Robbie Williams het die volgende oor haar gesê: Sy het al op verskeie top treffers gesing en is die beroemdste sangeres van wie jy nog nooit gehoor het nie. En tog weet bitter mense buite die top musiekkringe regtig wie sy is. Wanneer ons van kunstenaars praat is daar sekere beroemde sangers wat net nie bekendstelling nodig het nie. David Bowie wat die afgelope week gesterf het, was een. Nog een is Mick Jagger van die Rolling Stones en Paul McCartney, Cher, Tina Turner, Annie Lennox, Eric Clapton, Robbie Williams en Kylie Minogue. Daar is nog ’n hele paar beroemde name wat ek by hierdie sangers kan voeg want hulle almal het iets met mekaar in gemeen. En dit is Tessa Niles. Sy was ’n agtergrond sanger waarsonder meeste van hierdie sangers nie wou optree nie, omdat sy met haar stem op so ’n manier hulle stemme ondersteun het dat sy die beste in hulle almal na vore gebring het. Haar boek handel dan juis oor die vreugde wat sy as agtergrond sanger beleef het. Sy vertel hoe sy moes worstel met almal wat haar aangemoedig het om met haar talentvolle stem ’n kunstenaar uit eie reg te word en hoe sy uiteindelik die grootste bevrediging gekry het in die feit dat sy met haar besondere stem ander kunstenaars(beroemde kunstenaars) kon help tot groter hoogtes. Sy vertel van die bevrediging wat sy daaruit kon put om aan die einde van ’n konsert of nadat ’n opname gefinaliseer is, kon weet dat haar rol as agtergrond sanger het dit gehelp tot sukses. Haar verhaal het my dadelik by ons worsteling om altyd die beste te wees uitgebring. Ons moet die beste wees in krieket, rugby en sommer nog allerhande ander dinge. Ons werk hard om die toppresteerders te wees in sport, akademie en kultuur en ons skep die illusie dat net die heel beste is goed genoeg. Dit is eintlik skokkend om te sien hoe predikers regoor die wêreld die indruk skep dat God jou die vermoë sal gee om die heel beste te wees. Dit is egter ’n leuen! Om ’n wenner in God se oë te wees beteken nie noodwendig dat jy die beste in enige iets moet wees nie. Die waarheid is dat God wil hê dat jy jou beste sal gee ongeag wat enige iemand anders daarvan sal dink of die feit dat daar ander is wat beter as jy is. Die belangrikste is hoe jy voor God leef. Gee jou heel beste en weet dat wat jy doen, hoe gering dit ook deur ander geag word, is belangrik in God se koninkryk. 1Kor 3:9-13 Ons is medewerkers in diens van God, en julle is die saailand van God. Julle is ook die gebou van God. (10) Volgens die genade wat God my gegee het, het ek soos 'n goeie bouer die fondament gelê, en 'n ander bou daarop. Maar hy moet mooi kyk hoe hy verder bou, (11) want niemand kan 'n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie. Die fondament is Jesus Christus. (12) Of dit goud, silwer, edelstene, hout, gras of strooi is waarmee iemand op die fondament bou, (13) elkeen se werk sal aan die lig kom. Die dag wanneer Christus kom, sal dit duidelik word. Die dag kom met vuur, en die vuur sal die gehalte van elkeen se werk toets. Die grondbeginsel is dat Jesus Christus die fondament van die kerk is. Wat ons ook al doen, moet gebou wees op ons geloof in Jesus as ons Redder en Verlosser. Paulus skryf dat dit nie saak maak waarmee jy verder bou nie die kwaliteit van jou werk sal uiteindelik getoets word. Dit maak dus nie saak of jy oor sulke aardse rykdom beskik dat jy met goud, silwer of edelstene kan bou nie, jou werk sal op dieselfde wyse geëvalueer word soos dié wat met hout, gras en strooi gebou het. Die luukse en die armoedige materiaal waarmee gebou kan word, word in een asem genoem. Nie om onderskeid te tref asof net die luukste en duurste vir God aanvaarbaar is nie, maar om dit te beklemtoon dat die kwaliteit van jou werk deur God geëvalueer sal word. Dit maak daarom nie saak of jy ryk en vernaam of arm en onbekend is nie. God maak jou deel van sy koninkryk en die manier waarop jy deel is, sal uiteindelik deur God self getoets word. Paulus skryf ook in Efesiërs 2:20 - 22 “Julle is 'n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, 'n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is. In Hom sluit die hele gebou saam en verrys dit tot 'n heilige tempel vir die Here, in wie julle ook saam opgebou word as 'n geestelike huis waarin God woon.” Paulus praat nie hier met mense wat die hoogste sport bereik het of die beste op elke terrein van hulle lewe is nie. Nee, hy praat met mense wat herinner moet word aan die krag waarmee God in hulle werk en wat daaraan herinner moet word hoe groot die liefde is wat God deur Jesus Christus vir elkeen van hulle het. In Markus 12:41-44 lees ons in so bietjie ander konteks van die arm weduwee wat haar muntstukkies gebring het as offer by die tempel. Jesus wys die dissipels op haar daad wat dalk in meeste mense se oë maar gebrekkig sou wees en sê dat haar bydrae baie meer werd is as die oorvloed wat ander bring wat nie regtig die beste is wat hulle kan gee nie. Jesus sê: “Hulle het almal uit hulle oorvloed iets ingegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het, alles waarvan sy moes lewe.” Met hierdie voorbeeld wys Jesus ons daarop dat dit nie saak maak hoe mense jou bydrae sou evalueer nie. Dit maak nie saak of dit wat jy doen en wat is of bereik het deur ander dalk as gering geag sou word nie, maar wat wel saak maak is die gesindheid wat wel in jou hart is. Hy wys ons daarop dat Hy elkeen van ons as belangrik ag en dat ons nie die beste van almal hoef te wees of te gee nie, maar wel die beste wat ons kan. Elke gelowige net soos jy is. Maak nie saak of ander dink dat jy besonders is of nie, God roep jou om iets van sy liefde en genade uitbeeld. Paulus wys ons ook in Romeine 12 en 1 Korintiërs 12 daarop dat God ons verskillend geskape het en dat Hy aan ons gawes gee wat van mekaar verskil. Hy lê ook daarop klem dat ander dalk mag dink dat jy gering en self onnodig is, maar God het daardie gawe aan jou gegee om te gebruik tot opbou van die geloofsgemeenskap. Jou gawes en talente mag jou dalk nie die beste op enige terrein maak nie, maar God het dit aan jou gegee sodat jy saam met ander vir God ’n heilige tempel kan wees, ’n geestelike huis waarin God woon. Jesaja sê dat God met jou ’n besonderse verhouding het en dat God jou spesifiek op jou naam roep om dit te bevestig. Tessa Niles het ingesien dat sy nie ’n popster hoef te wees om met haar stem en musiek betekenis in mense se lewens te hê nie. Sy het besef dat sy met haar talente die rugsteun van ander kan wees en steeds tevrede kan wees sonder dat sy ooit in die kollig kom nie. In die kerk moet ook ons besef dat al is ons name nie op ander se lippe nie en al word ons nie raakgesien vir die geringe bydrae wat ons maak nie, lê die tevredenheid daarin dat jy met die gawes tot jou vermoë die heel beste gedoen het wat jy kon. Daar lê baie groot bevrediging daarin dat jy weet dat selfs al is jou vermoëns beperk dra jy by tot die oprig van hierdie geestelike huis van God waarby alle gelowiges baat vind. As ons mooi daaroor nadink is dit wat Jesus vir ons gedoen het. Hy was bereid om die gestalte van ’n slaaf aan te neem om die eer en roem aan God te kon gee. Deur die minste te wees het Hy ’n ongelooflike bydrae gelewer sodat elkeen van ons daardeur gered kan word. Hy was immers in staat om deur net ’n woord te spreek Homself te bevry van sy gevangenskap, maar Hy was bereid om die minste te wees sodat ons daardeur bevoordeel kon word. Ons moet daarom ophou om onsself aan ander se voorkoms, prestasies en vermoëns te meet en te aanvaar wie ons in God se oë is. Ons is immers vir Hom so belangrik dat Hy bereid was om sy lewe vir ons af te lê. As jy kan aanvaar dat God jou so lief het, behoort jy in dankbaarheid jou heel beste vir Hom te gee. Daar staan in Kol 3:17 “En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.” Ons hoef regtig nie die beste op enige terrein te wees nie. Ons moet net met die gawes en vermoëns wat God ons gegee het die beste doen wat ons kan. Dit sal vir God genoeg wees en dan sal ons werklik vir Hom ’n heilige tempel wees waarin ons almal geestelik tuis kan wees. Amen Sondag 10 Januarie 2016 Matteus 3:11-17 Gs 480:1,3; Gs541:1,3; Gs 516 Toetrede: Gs. 163 Gs 345:3,4 Ps. 130:1,2 (Lina Spies) Gs 442:1,2 Gs 542:1,2 Seën (Gs 278) Stories soos Superman en ander superhelde wys op die begeertes van die mens dat daar iemand êrens moet wees wat oor die mag kan beskik om beheer oor die wêreld uit te oefen. Die Verenigde Nasies, Europese Unie en Afrika Eenheid is organisasies waarmee verskillende groepe state deur ’n gesamentlike binding, orde probeer handhaaf. Israel se begeerte om ook ’n koning te hê sou ons waarskynlik in dieselfde lig kan sien. Die koning kry die gesag oor die volk en word die ikoon na wie almal opkyk. Die rol wat ’n staatspresident speel is ook dieselfde Die mag wat in die hande van so ’n organisasie, koning of president se hande lê is dikwels meer as wat die mens kan hanteer. Ons weet wat die huidige president sou doen. Ons praat dikwels oor die dinge wat in die land gebeur en hoe ons dink dit behoort te wees. Wat sou jy doen as jy staatspresident kon word? Wat sou jy doen as jy die mag gehad het om wette voor te skryf en dit af te dwing? Ek ken mense met mag en ek hoor ook gereeld by vriende en ons almal lees gereeld in die pers van mense wat mag het en hoe hulle dit vir eie gewin misbruik inplaas daarvan om daarmee goed te doen. ’n Kollega het my vertel van ’n lidmaat wat hy in ’n plattelandse gemeente gehad het. Hierdie persoon was ’n vernuftige besigheidsman en het baie mense in die dorp en gemeente gehelp toe hulle finansiële probleme gehad het. Aanvanklik klink dit baie goed, maar die waarheid is dat dit hom vrye reg gegee het om te doen wat hy wou. Niemand in die kerkraad het die moed gehad om teen hom op te tree nie, want meeste was afhanklik van sy goeie guns. Dikwels sien mens ook dat mense wat groot geword het in ’n huis waar veral die pa sy mag misbruik, gou van hulle ongelukkigheid daaroor vergeet wanneer hulself in ’n posisie van mag kom. Om belangrik te wees is soms so oorweldigend vir mense dat hulle maklik van hulle rein voornemens vergeet en eerder hulle eie selfsugtige behoeftes en ideale nastreef en afdwing. Johannes was in die woestyn besig om mense op te roep tot bekering en hulle te doop as teken daarvan. Duisende mense het gekom om deur Johannes gedoop te word. Nêrens word vir ons gesê of hy met Jesus vooraf te doene gehad het nie, maar hy berei mense voor dat die Messias reeds in hulle midde is en dat die Messias groter en belangriker is as al die aanhang wat hy van mense ervaar het. En uiteindelik, op ’n dag, daag Jesus by Johannes op om gedoop te word. Alhoewel hy nie vir Jesus voorheen gesien het nie, moes van hy van Jesus geweet het a.g.v. die ervaring wat sy ma met Maria gehad het en sy ouers het hom waarskynlik ook voorberei vir die taak wat hy het. Dit is belangrik om te vra waarom Jesus dan kom om gedoop te word. Johannes het mense opgeroep om hulle te bekeer en as teken daarvan te laat doop. Jesus was tog sonder enige sonde en Hy kon Hom tog nie bekeer van ’n sondige lewe nie. Wanneer Jesus by Johannes kom sê hy ook dat hy nie vir Jesus kan doop nie, want Jesus moet hom eerder doop. Hiermee gee Johannes te kenne dat al sien mense hom as ’n profeet, iemand wat getrou aan God is en ook as iemand wat ’n voorbeeld stel van ’n rein lewe, is Jesus nog groter as hy. Johannes sien in sy optrede en die groot aanhang wat hy gehad het geen mag nie en wys mense op Jesus wat die Messias is. Die rede waarom Jesus gedoop moes word, word baie wyd deur teoloë beredeneer. Oor die algemeen is daar drie teorieë wat vir ons baie belangrik is. Die eerste is dat Jesus nie skuld afgelê het nie, maar wel die veilige ruimte van sy familie en huis om die taak op te neem waarvoor Hy geroep is. Mens kan as’t ware sê dat Hy by sy doop begin het om die kruis op te neem wat Hy moes dra tot by Golgota waar Hy sy lewe vir sondaars afgelê het. Tweedens kan ons sy doop sien as die geleentheid waar Jesus homself vereenselwig het met die skande en pyn van mense se sonde. Alhoewel Hy sondeloos was toon Hy berou saam met die sondaar om in staat te wees om sondaars van hulle skuld te bevry. Derdens wou Jesus gedoop word, omdat dit die geleentheid is waar God nie net Jesus se roeping in die wêreld bevestig nie, maar ook op ’n ongelooflike wyse openbaar dat Jesus ’n baie besonderse band met God het. Johannes is daarom reg as hy sê dat hy eerder deur Jesus gedoop moet word, maar Jesus wys daarop dat sy doop deur Johannes nogtans gedoen moet word want dit is hoe God dit wil hê. In vers 3 staan: “Jesus het hom geantwoord: “Nogtans moet jy dit nou doen, want op hierdie manier moet ons aan die wil van God voldoen.” – dit kan vertaal word met “Dit mag waar wees wat jy sê, maar jy moet my nogtans doop, want dit is hoe God dit wil hê.” Johannes het aan die mense verkondig dat hy met water doop, maar dié een wat na hom kom, sal met die Heilige Gees en vuur doop. Dit is daarom logies dat hy sou sê dat Jesus hom eerder moet doop, want Jesus bring die Heilige Gees en daarom die totale verandering in mense se lewens wat gesimboliseer word deur die doop. In Jesus sal bepaal word of jy saam met die kaf verbrand word en/of jy saam met die oes in die skuur gebring sal word. Hierop sê Jesus dat dit alles waar mag wees, maar nogtans moet Johannes doen wat God hulle opgelê het om te doen. Jesus het nie gekom om ’n volksheld te wees nie maar die ongelooflike groot liefde van God in die wêreld sigbaar te laat word. God het nie Jesus se band met Hom met dramatiese kragvertoon bekend gemaak nie. Die feit dat die Heilige Gees soos ’n duif op Hom neergedaal het, moet alreeds vir ons aandui dat God deur Jesus sy vrede en liefde in die wêreld moontlik wil maak. God verklaar oor Jesus: Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug ek my.” Ons moet dit dalk vergelyk met ons eie situasie. My kinders wat ek liefhet, wil ek so beskerm dat hulle net die beste van hierdie wêreld sal ervaar. As ek nog boonop sê dat dit die kind is waaroor ek my verheug, skep dit die indruk dat ek met trots na hierdie kind kyk en tevrede en bly is oor die dinge wat in my kind se lewe gebeur en net die beste vir hierdie kind wil hê. Wanneer God sê dat Hy Hom verheug oor sy geliefde Seun, het Hy nie ’n suksesvolle opvolger vir die troon van Dawid in gedagte nie. As God sê dat Hy Hom verheug oor sy geliefde Seun is dit ook nie, omdat Jesus sy mag en majesteit in die wêreld gaan vestig en alle mense ontsag vir Hom gaan hê nie. God verklaar teenoor die wêreld dat Jesus sy geliefde Seun is en dat Hy oor Hom bly is, selfs as Hy weet dat die wêreld Hom gaan verwerp. Jesus neem nie die magsposisie van ’n koning in of selfs as God nie, maar word die nederige dienaar wat sy lewe prysgee, sodat elke sondaar daardeur bevry kan word van sondeskuld. Jesus se bediening word met hierdie nederige daad van sy doop ingelei en die ongelooflike verklaring dat Hy God se Seun is, word oorskadu met die doel waarom God Jesus in hierdie wêreld gebore laat word het. Dit is nie om ’n naby verteenwoordiger te hê of om sy krag en mag te manifesteer nie, maar om sy werklike liefde vir die sondaarmens te openbaar. By mense kan ons nog sien hoe mag in hulle hande, hulle laat verander in gewetenlose wreedaards, maar God wat werklik die vermoë het om die mens in ’n oogwink te vernietig, kies om op ’n ongelooflike wyse sy liefde vir die mens te openbaar. Die verklaring dat dit God se Seun is, skep die verwagting dat Hy as ’n God magtige dinge sal laat gebeur, maar die teendeel is eintlik waar. Johannes wys op Jesus se oordeel en meen hy is nie werd om Jesus te doop nie. Jesus wys Johannes dat dit deel is van wat in sy lewe moet gebeur. Geen teken van magsvertoon, net die nederige aanvaarding dat God se wil in sy lewe moet geskied. Dit is vir ons die ongelooflikste nuus, omdat dit ons wys op die totaal andersheid van God en juis die hoop gee dat waar alles vir ons verlore lyk, bring God self uitkoms. Hy doen dit nie met mag en krag nie, maar in liefde wanneer Hy sy Seun prysgee t.w.v. die sonde van die wêreld. Dit is waarom Paulus skryf in 1 Korintiërs 1:25 “Wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense, en wat vir die wêreld die swakheid van God is, is groter krag as die krag van mense.” Wanneer ons dus nadink oor die doop van Jesus en die betekenis daarvan in ons lewens, moet ons raaksien wat God deur Jesus doen en die wyse waarop Jesus sy roeping aanvaar en hoe dit ook bevestiging is van hoe groot God se liefde vir ons is. Juis in die besef hoe anders ons die leierskap sou oorneem, lê die versekering dat God deur Jesus en die werking van die Heilige Gees ons lewens sal verander, sodat ons al meer kan word soos Hy dit wil. God plaas nou die volheid van sy genade en liefde in jou hande. Jesus het sy taak met nederigheid aanvaar; wat gaan jy doen met dit wat God aan jou toevertrou? Amen Sondag 3 Januarie 2016 2 Timoteus 2:11 - 26 Gs 547:1,3; Ps 33:1; Gs 602:1,5 Toetrede Gs 177 Gs 168:1-3 Gs 261: 1-3 (2de mel Ps 107) Gs 278 Gs 528:1-3 Gs 314 Teksvers : 15,21 Dit is die eerste Sondag van 2016 en ons vra onsself wat vir ons as gemeente in dié jaar alles voorlê. Watter rol speel die kerk in jou lewe en andersom, watter rol gaan jy hierdie jaar speel in die kerk? Die boodskap begin eintlik by vers 8 waar Paulus vir Timoteus herinner daaraan dat Jesus Christus die nakomeling van Dawid uit die dood opgewek is. Hy bevestig dat dit die kern van die evangelie is wat hy verkondig. Dan brei hy dit nog verder uit met die woorde wat ons vanaf vers 11 - 13 gelees het. “Dit is 'n betroubare woord: As ons saam met Hom gesterf het, sal ons ook saam met Hom lewe; as ons in die geloof volhard, sal ons saam met Hom regeer; as ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën; as ons ontrou is – Hy bly getrou: Hy kan Homself nie verloën nie. “ (2Tim 2:11-13) En hierdie is die belangrike agtergrond van die teksverse vir ons prediking. Die boodskap van verlossing soos dit deur Jesus Christus aan ons gebring is, moet 'n lewe van dankbaarheid tot eer van God tot gevolg hê. En hierin sê Paulus moet ons, ons lewens tot beskikking van God stel as 'n arbeider wat die goedkeuring van God weg dra. En natuurlik ook as 'n arbeider wat hom nie vir sy werk skaam nie. Om dit reg te kry vra van ons om ons totale lewe beskikbaar te stel tot die diens van God. Prakties gesien lewer dit sekerlik vir ons probleme, want almal van ons kan seker nie predikante of sendelinge word nie en 'n gemeente kan ook net soveel diakens en ouderlinge hê. En dit kan tog sekerlik ook nie beteken dat ons nou skielik op die straathoeke moet gaan staan en getuienisse lewer nie. Hoe kan mens dan jou dankbaarheid betoon op grond van die genade wat God aan ons verkondig? Paulus sê mens moet dit doen deur jou lewe tot beskikking van God te stel. Maar dan spesifiek deur op te hou stry oor woorde en jouself nie besig te hou met onheilige en sinlose praatjies nie. Al die wyshede van dit mag jy en dat mag jy nie het geen nut nie en is eintlik maar net skadelik vir die hoorders daarvan. Wanneer jy met die mens te doene het sal jy dit sekerlik altyd kry dat daar sommige is wat hulle self wil verhef as die profete wat die laaste waarheid beet het. In die kerk is ons feitlik daagliks aan hierdie tipe mense blootgestel wat op grond van hulle eie vindingrykheid wil voorskrifte gee hoe mens moet lewe. Ek sou hierdie praatjiemakers in twee kategorieë indeel. Die een groep is die wat soveel vertroue in hulle eie vermoë het dat hulle allerlei reëls skep waaraan mens moet voldoen voordat jy deel van die geloofsgemeenskap sou kon wees. Onder hierdie groep sal mens dikwels hoor van hoe die ware gelowige lyk, mens sal van wedergeboorte hoor en sien dat daar baie klem gelê word op sake soos bekering, doop en die eindtyd asof net hulle sou kon weet wat daar aangaan en net hulle deel is van die uitverkorenes. Hierdie mense is baie kere maklik om te identifiseer, omdat hulle meestal buite ons kerk staan en ons nie regtig vir hulle hoef te luister nie. Die ander groep is egter die groep wat binne die kerk is, maar vanuit die selfregverdiging van sy eie optredes ander probeer leer wat toewyding sou beteken. Dit is die mens wat in alle geloofsake vra hoe dit by sy gewone lewe sal kan inpas. Hy sal dit dan ook so hanteer dat die minimum waarmee hy leef die norm is wat gevolg moet word. Van hulle hoor ons al die wyshede soos die kerk bring jou nie in die hemel nie, 'n mens moet maar net sorg dat jou saak met God reg is en niemand weet regtig wat in 'n ander se hart aangaan nie. Dit is ook hulle wat hulle self oneindig besig hou met wat almal rondom hulle se verpligtinge sou wees, sonder dat hulle self hulle eie verantwoordelikhede nakom. Dit is hulle wat voortdurend stry oor allerhande sake wat nie regtig die kern van die evangelie raak nie. En in hierdie praatjies sien ons dat die mens geneig is om met sy eie interpretasie self te wil besluit hoe 'n lewe van dankbaarheid behoort te lyk. In sy eie optrede en praatjies benadeel hy die geloof van ander. Hierteen waarsku Paulus baie sterk in die verkeerde oordele wat ons kan gebruik. Daarom sê hy dat God het reeds die hegte fondament vir ons gelê en dit lê enersyds daarin dat Hy deur Jesus ons van alle skuld verlos het en andersyds dat God elkeen ken wat werklik aan Hom behoort. Hoe ons onsself beskikbaar stel vir God lê nie in die reëls en wette wat nagekom moet word nie. Dit lê ook nie in die self uitgedinkte voorskrifte waarmee ons, ons eie gewetens probeer salf nie. Dit lê in oortuiging waaruit ons leef. 'n Mens sou nog 'n ander deur jou optrede om die bos sou kon lei maar nie vir God nie. Hy ken elkeen wat aan Hom behoort. Die manier waarop ons onsself tot beskikking van God stel lê eerder in die gesindheid wat in ons harte is. Die voorbeeld wat Paulus hier gebruik van die arbeider spreek eintlik vanself. Ons moet as arbeiders van God ook nie enige voorwaardes stel aan die diens wat ons lewer nie en ook nie vra na die minimum wat ons kan doen nie maar moet voortdurend vra of dit waarmee ons besig is God se goedkeuring wegdra. In verskillende van sy briewe lê Paulus daarop klem dat ons voortdurend onsself moet afvra of dit waarmee ons besig is vir die Here aanneemlik is. Hierdie norm behoort in 2016 deel te wees van elke faset van ons lewe, maak nie saak of dit by ons werke of huise of die kerk is nie. Die enigste norm moet God wees en dat ons deur elke optrede ons dankbaarheid aan Hom wil toon. In Kolossense 3 staan daar dat ons, omdat ons saam met Christus uit die dood opgewek is moet strewe na die dinge wat daarbo by Christus is. Dit is baie duidelik dat die norm nie ’n wêreldse standaard is nie, maar Christus en sy liefde en genade. Paulus sê mens kan in elke huis dit prakties sien. Almal het maar in hulle huise voorwerpe wat jy dalk in enige ander huis sal vind. Sommige van hierdie goed is vir alledaagse gebruik, maar dan is daar artikels wat vir 'n besondere doel gebruik word. Mens kan dit dalk so verduidelik. Wanneer jy spesiale gaste ontvang haal jy nie die eetgerei uit waarvan die stel nie meer volledig is nie. Nee jy haal ou beste uit, want jy wil nie dat jou gaste uit ’n bord moet eet waarvan ’n skerfie afgebreek het of dit gekraak is nie. In ons huis byvoorbeeld staan daar op ’n buffet ’n houtkissie met ’n messestel. Dit is ’n besonderse erfstuk en word nie elke dag gebruik nie. Dit word net gebruik wanneer die kinders kom kuier of wanneer ons kuiermense het. Net so moet ons in die geloof ook wees. Ons moet vir God afgesonder wees vir besondere gebruik, voorbereid vir enige goeie diens. Daar is egter een verskil en dit is dat ons nie êrens op ’n kas of onder ’n rak weggebêre word vir gebruik so nou en dan nie. Nee, soos ’n arbeider wat ingestel is om sy eienaar tevrede te stel moet ons elke dag vir God ’n voorwerp tot besondere gebruik wees. Die manier hoe ons afgesonder vir besondere gebruik sal word, is deur weg te breek van alle verkeerdhede in ons lewens. 'n Lewe van toewyding waarin ons aan God behoort en onsself tot sy beskikking stel, gaan nie oor reëls en voorskrifte wat ons moet nakom nie. Dit gaan oor 'n lewe wat skoon en rein is en wat getuig dat Jesus Here van jou lewe is. Dit is die enigste waarheid waaraan ons moet vashou. Dit sou beteken dat mens die dinge wat deel van jou ou sondige lewe is agter jou sal plaas en die nuwe lewe in Christus sal leef. Hierdie nuwe lewe sal skoon wees van alle kwaad wat verwydering tussen ons en God bring sodat ons juis met blydskap die vrug van Jesus se sterwe en opstanding in ons lewens kan laat seëvier. 'n Lewe van dankbaarheid en toewyding waar jy jouself tot beskikking van God stel, vra dat jy in elke opsig 'n lewende getuie van Christus sal wees. Maw nie net in een of ander diens wat jy lewer nie, maar met alles wat jy doen. M.a.w. nie net in die wyse waarop jy 'n ouderling of lidmaat van die kerk is nie, maar ook jou huwelik, jou optrede by die werk en waar jy ontspan saam met familie of vriende moet getuig van toewyding aan God. Ons kan weet dat elkeen van ons kan deur die genade van God en deur die werking van die Gees 'n voorwerp vir besondere gebruik wees in die diens van die Here. In hierdie jaar moet ons daarna strewe om elke dag te vra na die leiding en krag van die Heilige Gees sodat ons van ons eie voorkeure, die vooroordele wat ons het en wêreldse standaarde kan wegbreek en met ons hele lewe getuig van dankbaarheid. Amen

Leave a Reply